Louise Gevers 

Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink.
 
Vir Maria was haar inleiding tot moederskap tydens daardie eerste Kersfees iets wat sy nooit sou vergeet nie en alles het oor geloof en ontvangs gegaan. Dit het van haar totale geloof, volkome vertroue en buitengewone moed gevra, maar sy is ook beloon met ontsagwekkende verwondering en groot blydskap oor dit wat God vir haar en haar Kindjie gedoen het. Iets waaroor sy telkens weer nagedink het.
 
Het daar al ooit soveel – toe en tot nou – van enige ma afgehang?
 
Skaapwagters het haar Kindjie besoek en kom vertel van die sterverligte hemelruim gevul met 'n menigte engele wat sy geboorte aankondig en God loof en prys. Wyse manne uit die Ooste het ook gekom, voor die Kindjie gebuig en Hom aanbid. Hulle het buitengewone geskenke gebring wat betrekking gehad het op beide sy lewe en dood en hulle het ook 'n verhaal vertel van 'n wonderlike ster wat hulle gelei het na presies die plek waar Hy was.
 
As 'n jong, swanger vrou was Maria nie net baie bly oor die wonder van 'n nuwe lewe in haar nie, maar sy het ook die druk van hierdie groot voorreg ervaar. God het aan haar vrede gegee en sy het in geloof en gehoorsaamheid voortgegaan. (Lukas 1:38) Soos enige ander moeder het sy ook baie kosbare herinneringe gehad om te onthou en te koester, maar dit wat Maria met Jesus beleef het, was ver bo enigiets wat sy haar ooit kon indink. Haar lewe was 'n volgehoue reis van genade en deur Jesus se geboorte het sy tot dieper insig gekom.
 
Augustinus het deels die paradoks van Maria se unieke ervaring van haar Seun vir ons vasgevang: "Hy is geskape uit 'n moeder wat Hy geskep het, Hy is gedra deur hande wat Hy gevorm het ..." [vry vertaal]. Die woorde van 'n moderne lied voltooi egter die groter prentjie van die genade wat God aan Maria bewys het: "this child that you delivered, will soon deliver you". https://www.youtube.com/watch?v=JPsgIhlYQmM
 
Kon sy 'n groter geskenk ontvang het? Hierdie ondervinding wat haar geloof bevorder het, het Maria regdeur Jesus se lewe op aarde gehelp.
 
Die ware betekenis van Kersfees handel oor geloof en ontvangs. Dit beteken dat ons, net soos Maria, glo dat Jesus Christus, God se enigste Seun, gebore is om wanneer ons in Hom glo ons van ons sonde te verlos, en dat deur Hom ons die ewige lewe sal ontvang.
 
C S Lewis som dit vir ons op wanneer hy sê: “Soek Christus en jy sal Hom vind. En saam met Hom, alles anders." [vry vertaal]
 
"Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap." (1 Petrus 1:8-9)
 
Glo jy soos Maria, en het jy ook God se grootste geskenk ontvang?
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir Jesus en vir die wonderlike genade wat U deur sy geboorte aan ons bewys het. Help my in hierdie nuwe jaar om te glo, in my geloof te groei en die pad met Jesus te loop. Amen