Hier is ek, moet my asseblief nie stuur nie - 27 Oktober 2023
Imogen Campbell
Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.” Eksodus 4:13, 1983-vertaling
Ek het nog altyd 'n sagte plekkie vir Moses gehad. Hy verteenwoordig hoop vir diegene wat maar 'n middelmatige lewe lei – wie se ster nie meer so helder skyn nie, wat dit nie heeltemal in die lewe gemaak het nie of diegene wat verskeie onverwagte terugslae beleef het.
Moses, die prins van Egipte, eens bekend as 'n goeie kind met baie potensiaal op wie God se hand gerus het, was gereed om sy merk vir God te maak. Hy het toegang tot mag en die beste wat die wêreld kon bied, gehad. Menslik gesproke was hy in 'n ideale posisie om iets groots te doen.
Op 'n dag het hy probeer om iets vir sy mense in sy eie krag te doen. Dit het op 'n skouspelagtige wyse geboemerang en hy moes op die vlug slaan. Verban uit Egipte en geïsoleer van almal wat hy geken het. Die gevolg was ook dat hy vervreemd is van die farao, wat na alle waarskynlikheid woedend was, en van almal wat hom tot op daardie stadium versorg het. Hy het werklik 'n groot gemors gemaak.
In teenstelling met sy vorige lewe, het hy in die woestyn met 'n trop ongelukkige en soms hulpelose skape, beland. Na 40 jaar het hy miskien gevoel of hy niks meer kon bereik nie, maar aangesien hy toe sy eie gesin gehad het, tog tevrede met hoe sy lewe verloop het. 'n Mens kan egter nie iemand wat sou sê: "Hoe het die helde geval", kwalik neem nie.
Maar toe het God hom geroep. Noudat hy nie meer jonk was nie ... toe was hy gereed om tot eer van God gebruik te word. God was egter nie klaar met Moses nie – hy moes net gevorm word tot die man wat God wou hê hy moes wees. Ironies genoeg, ten spyte van die verloop van 40 jaar, was Moses skynbaar nou nie gereed nie. Selfs nadat God 'n aantal wonderwerke voor hom gedoen het, lees ons in Eksodus 4:13: "Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”
Dit het God kwaad gemaak. Eksodus 4:14-17 stel dit so: "Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien. Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen. Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee. Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.”
Moses het klaarblyklik gehakkel en het vir 40 jaar nie die taal van die Egiptenare gepraat nie. Miskien het hy ook vasgeskop teen God se antwoord op sy vraag waarvan ons in Eksodus 3:11-12 lees: "Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”
Miskien het Moses net oud gevoel en nie opgewasse vir die taak nie. Wat as hy weer 'n gemors daarvan maak? Dit het so lank geneem om sy lewe weer reg te ruk ... Ten spyte van al sy bedenkinge, het hy tog gegaan en, soos hulle sê, die res is geskiedenis. Vandag word die lewe van Moses met al sy swakhede, steeds regoor die wêreld vereer.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U nooit tou opgooi met ons nie. Dankie dat U ons ongeag ons omstandighede, ouderdom en beperkings gebruik, solank as wat ons gewillig is om U te dien. Amen