Die koninkryk bestaan uit krag - 23 September 2022
Ben Fourie
“… want die koninkryk van God bestaan nie uit 'n gepraat nie, maar uit krag.”
Gister het ons gesien dat Paulus die gemeente in Rome vermaan oor die kleinlike geskille tussen gelowiges oor rituele en gebruike. Vandag is dit die gemeente in Korinthe wat vermaan word oor die verdeeldheid of onenigheid wat daar tussen lidmate in die gemeente bestaan het. Wat ons as die eerste brief aan die Korinthiërs beskou, is waarskynlik nie die eerste brief wat Paulus aan hulle geskryf het nie. As 'n mens Hoofstuk 5:9 lees, lyk dit asof daar 'n vroeëre brief geskryf is wat veral oor sedelike sake gehandel het. Die brief het met die tyd verlore geraak. (Die Bybel 2020-vertaling se Inleiding by 1 Korinthiërs.) Nou spreek hy weer die kwessie van onsedelikheid, gelowiges wat mekaar voor die gereg daag, die huwelik, egskeiding, afgode en offervleis en nog 'n paar sake aan, maar hy is veral bekommerd oor die verdeeldheid, onenigheid en stryery.
Die onenigheid het uitgeloop op groepvorming rondom leiers. Een groep het vir Paulus aangehang, 'n ander weer vir Apollos en nog ander vir Sefas. Lees 'n mens 1 Korinthiërs 3 en 4 kom jy agter dat Paulus dit veral het teen dit wat hy in 1 Korinthiërs 3:21 noem: “Daarom moet niemand hom op mense beroem nie.” Interessant hoe die geskiedenis hom telkens maar herhaal. Ook vandag kry ons hierdie groepvorming en aanhang van mense, ongelukkig dikwels diegene wat juis geroep is om die boodskap te verkondig. Wêreldwyd is daar predikers wat omtrent kultusstatus bereik het.
Paulus bring alles in perspektief wanneer hy in ons teksvers sê dat die koninkryk van God nie bestaan uit 'n gepraat nie, maar uit krag. Ons koninkrykies word dikwels rondom die praatjies van 'n persoon, persone of ons kerkgenootskap gebou, terwyl die ware koninkryk van God gesentreer is rondom wie Hy is en wat Hy doen. Ek haal graag aan wat "Die Bybel met Verklarende aantekeninge" oor die teks sê: “Die bevordering van die koninkryk van God hang nie van 'n voortreflike redenaarstalent af nie, maar van die kragwerking wat van die gesproke woord uitgaan.” Dan word verwys na 1 Korinthiërs 2:4-5 waar Paulus sê: “My lering en my verkondiging het nie berus op oorredende woorde van wysheid nie, maar op bewyse van die Gees en van krag, sodat julle geloof nie op die wysheid van mense berus nie, maar op die krag van God.”
Gebed: Ons dank U vir verkondigers van u woord wat dit nie doen om selfverheerliking nie, maar deur die krag van die Gees sodat mense tot geloof in U kan kom en die koninkryk daardeur uitgebrei kan word. Amen