Hou aan - 20 September 2022
Ben Fourie
“Paulus het 'n volle twee jaar in sy gehuurde huis gebly en almal wat na hom gekom het ontvang. Hy het die koninkryk van God verkondig en hulle met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig.” Handelinge 28:30-31, 2020-vertaling
Die verkondiging van die koninkryk van God loop werklik soos 'n goue draad dwarsdeur die hele Nuwe Testament en telkemale sien mens dat die koninkryk radikaal verskil van wêreldse koninkryke. Verder bring die koninkryk van God ook 'n radikale verandering in talle mense se lewens. In gister se stukkie het ons gesien dat Paulus (Saulus) betrokke was by die groot vervolging van die gelowiges in Jerusalem, maar nou 'n dekade of wat later tref ons hom in Rome aan en “Hy het die koninkryk van God verkondig en hulle met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig.” Wat 'n ommekeer. Dit is dieselfde Paulus van wie in Handelinge 8:4 staan “Maar Saulus het die gemeente probeer uitroei…”
Paulus het 'n lang pad gekom vanaf vervolger van die kerk tot boodskapdraer van die koninkryk. Hy was nie bang vir slae en die tronk en skipbreuk en om honger en koud en moeg te wees op die pad nie. Hy was opgelei as skrifgeleerde en het behoort tot die Fariseër groep, maar wanneer hy Jesus leer ken, doen hy afstand van dit alles omdat hy besef het die koninkryk van God lê nie op daardie pad nie.
Hierdie radikale ommekeer is natuurlik nie beperk tot hom nie. Samaritane, Grieke, Romeinse soldate en Romeinse burgers, tronkbewaarders, die hofdienaar van Ethiopië, Jode en hooggeplaaste vroue uit die heidendom se lewens word onherroeplike verander wanneer hulle vir Jesus ontmoet. Jesus wie se sterwe en opstanding en hemelvaart die vestiging is van God se heerskappy, sy koninkryk, in die wêreld en in die harte van mense.
Omdat Paulus self die Here Jesus op die pad na Damaskus ontmoet het en gesien het hoe die verkondiging van die koninkryk talle mense se lewens verander, is dit sy groot passie in die lewe om dit te bly verkondig. Wanneer hy dan na vele omswerwinge hier in Rome vir twee jaar lank in huisarres is, sit hy nie en bekla sy lot nie, maar ontvang almal wat na hom gekom het met die boodskap van die koninkryk. 'n Werklik navolgenswaardige voorbeeld.
Gebed: Baie dankie liewe Vader dat ek ook op my lewenspad vir Jesus ontmoet het. Maak my ook 'n gewillige en vreeslose draer van die blye boodskap. Amen