Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ongekende groei - 8 September 2022

Ben Fourie 

“Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou: Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het … Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie saton (omtrent 40 liter) koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur is.” Matteus 13:31,33, 2020-vertaling
 
In Matteus 13 gebruik Jesus 'n paar gelykenisse om te illustreer hoe 'n mens die koninkryk van die hemele beter kan verstaan. Elke gelykenis belig 'n ander aspek van die koninkryk. Die twee wat hier saamgroepeer word, wil veral wys op die kragtige groei en werking van die koninkryk in die wêreld.
 
Die metafoor van die mosterdsaad kom behalwe hier. ook voor in Matteus 17:20. In beide gevalle is daar die idee van 'n klein begin wat 'n groot uitkomste het. Uit 'n baie klein saadjie kom die mosterdplant te voorskyn. Dit kan vier meter hoog word en dus as 'n boom beskou word wat 'n tuiste bied vir talle voëls. Die koninkryk van God het inderdaad ook deur die geboorte van 'n baba in Bethlehem begin en lewenskragtig uitgegroei tot waar dit vandag oor die hele wêreld versprei is en 'n tuiste bied vir alle gelowiges. Jesus se verwysing na die voëls wat nes maak in die takke is dan ook nie maar terloops nie. In die Ou Testament, byvoorbeeld Esegiël 17:2, word na 'n boom verwys waarin die voëls kan nes maak as simbool van 'n plek waar God beskerming bied. In die koninkryk van God is daar baie nesmaakplek.
 
Ek onthou nog hoe ek as kind verwonderd was dat die klein koekie suurdeeg wat my ma in die groot skottel meel ingewerk het soveel krag het dat die deeg oornag kon rys tot baie meer as waarmee daar begin is. Die klein bietjie suurdeeg wat in die meel ingewerk word, deursuur dit heeltemal en maak dit geskik vir 'n groot baksel brood. Stil en ongesiens soos suurdeeg trek die boodskap van Jesus se lewe en sterwe, opstanding en hemelvaart ook dwarsdeur die wêreld en oral rys sy Kerk op om voedsel vir soekende siele te verskaf. So werk die koninkryk van God en groei en suur deur tot in die verste uithoeke van die wêreld.
 
Gebed: Ons bid dat U ons ook sal gebruik om die wêreld te deursuur met die Evangelie van verlossing. Amen
Previous article: Oop vir elkeen wat glo - 9 September 2022 Prev Next article: Baie belangrik vir God - 7 September 2022 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.