Louise Gevers 

Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Matteus 20:31-32, 1983-vertaling
 
Alles om my is donker as gevolg van beurtkrag. Daar waar ek by die kerslig sit, hoor ek veraf 'n hond blaf, nie een van die naggeluide wat ek gewoonlik hoor nie. Ek is baie bewus van hierdie donkerte en ook dat, by die gebrek aan lig, dit my volkome omhul. Tog, as ek iets nodig het, loop ek versigtig deur die donker en probeer om, sonder om iets om te stamp, by dit wat ek wil hê uit te kom.
 
En ek dink aan mense wat nooit, dag of nag, lig kan sien nie, en hoe hulle dikwels meer bewus is van die fyner detail wat mense wat kan sien baie keer miskyk.
 
So, dit is moeilik om die groot skare wat Jesus gevolg het se hardvogtigheid te verstaan ten opsigte van die twee blinde mans langs die pad wat soos Jakob met volharding uitgeroep het: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”
 
Toe die skare hulle berispe en probeer om hulle stil te maak, het die twee mans hulle geïgnoreer en selfs harder uitgeroep, bekommerd dat hulle die geleentheid sou mis en dat hulle kans om genees te word met Jesus sou verdwyn. Hulle het hulle huiswerk gedoen en geglo dat Jesus nie net sommer enige wonderwerker is nie, maar die langverwagte Messias. Hulle het weer uitgeroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”
 
Sonder dat hulle fisies kon sien wat Jesus doen, het hulle die verslae oor sy leringe en wonderwerke gehoor, en hulle het geglo dat Hy die langverwagte Messias is waaroor daar geprofeteer is, die Een wat hulle sou kon help en verlos. Hulle het nie net uit nuuskierigheid vir tekens en wonderwerke gesoek nie.
 
Maar Jesus is onmiddellik bewus van die twee mans en hulle behoefte aan Hom, en dat hulle hierdie afspraak met Hom nie wou mis nie. Vol medelye reik Hy uit na hulle waar hulle is en Hy vra: "Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?"
 
Watter wonderlike woorde om van Jesus te hoor. Dit gee hulle die vryheid om hulle harte vir Hom oop te maak en dit wat hulle die meeste begeer en benodig te ontvang – hulle sig.
 
Dit is maklik om deel van die skare te wees, om saam te drom en Jesus dop te hou, onbewus van jou eie blindheid en ander behoeftes en dus gereed te wees om te verhoed dat daar in ander se behoeftes voorsien word.
 
Waar is jy? As Jesus jou sou vra: "Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?" wat sal jou antwoord wees?
 
Gebed: Here Jesus, Ek weet dat U oor al die mag en wonderlike deernis beskik om in my behoeftes te voorsien. Neem asseblief my blindheid weg en help my om deur u wonderlike Lig te kan sien. Amen