Louise Gevers 

Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit?
Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Job 38:3-5, 1983-vertaling
 
Nou die dag het ons kleindogter se dag nie goed begin nie. Haar hartseer stemmetjie op die videogreep het alles gesê: "Ek is ontsteld." Toe ek haar vra hoekom, het sy al huilende gesê: "Want my tutu's kan nie draai nie!" Dit blyk toe dat sy SES tutu's oormekaar aangetrek het en toe sy haarself in die rondte begin draai het die tutu's nie uitgeswaai soos sy gedink het hulle behoort te doen toe sy wakker geword het nie. Geen verduideliking van haar ouers kon haar troos nie.
 
Wat 'n werklike probleem vir 'n klein ballerina was, is by enige standaarde 'n storm in 'n teekoppie, en kwalik vergelykbaar met Job se traumatiese lyding.
 
In 'n kort tydjie het die opregte, godvresende Job al sy besittings, rykdom, sy tien kinders en toe sy gesondheid verloor en onbeskryflike lyding beleef. Soos baie van ons vandag, kon hy ook nie verstaan wat hy verkeerd gedoen het om dit te verdien nie. Hy het opreg geleef en God was stil in hierdie tyd wat hy (Job) Hom nodig gehad het vir antwoorde. Job het 'n oorweldigende behoefte om sy lyding te verstaan en daarom wil hy sy "saak voor Hom lê, [sy] pleidooie aan Hom stel. [Hy] sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir [hom] wil sê. (Job 23:4-5)
 
Job se geskokte vriende kom en sit vir sewe dae in stilte by hom voordat hulle hulle opinies lug en baie raad gee, alles wat in sy omstandighede vir hom min sin maak en vir hom so min beteken as sy vrou se raad: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!” (Job 2:9)
 
Elkeen van Job se "ondersteuners" het sy lyding vererger aangesien hulle nie begrip vir sy posisie gehad het nie en probeer het om hom te vertroos met die wete dat God se genade sal seëvier. Lyding help ons om nader aan God te kom en Hom in alle omstandighede te vertrou vir wie Hy is.
 
Op sy perfekte tyd, verskyn God. Hy het nie al Job se vrae oor sy persoonlike lyding geantwoord nie, maar Hy het hom gehelp om nuwe perspektief te kry. In vandag se vers begin God om 77 retoriese vrae aan Job te stel – vrae wat nie Job of enigiemand anders in staat was om te antwoord nie, maar tog het die impak daarvan Job gehelp om sy situasie te verstaan. As Job nie eers die werkinge van die natuur of diere verstaan nie, hoe kon hy die almag van God verstaan?
 
Job verstaan. Hy verkies om God nie onder kruisverhoor te neem nie, maar homself eerder voor Hom te verootmoedig en hy sê: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. … “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit." (Job 39:37, 42:1)
 
God het Job toe weer voorspoedig gemaak en "Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste." (Job 42:12)
 
Weet ons waar ons was toe God die aarde se fondamente gelê het? Vertrou ons Hom vir wie Hy is en nie vir wat Hy kan doen nie?
 
Gebed: Liefdevolle Vader, ek mag miskien nie alles oor U verstaan nie, maar ek weet dat u ryke genade en u liefde verniet is. U ken my lyding: "[U] ken my pad; as [U] my toets, is ek suiwer soos goud." (Job 23:10) Halleluja! Amen