Ben Fourie

“Wanneer jy hierdie dinge aan die broers uitwys, sal jy 'n goeie dienskneg van Christus Jesus wees, gevoed met die woorde van die geloof en die goeie leer wat jy noukeurig volg.”  1 Timoteus 4:6, 2020-vertaling
 
Ons lees vir die eerste keer van Timoteus in Handelinge 16:1, maar hy moes waarskynlik reeds toe Paulus tydens sy eerste sendingreis in Listra was, tot bekering gekom het. Aan die begin van Paulus se tweede sendingreis doen hy ook in Listra aan waar hy weer die jong Timoteus aantref. Hy was die seun van 'n gelowige Joodse vrou en 'n Griekse vader. Daar ontstaan 'n besondere band tussen Paulus en Timoteus en van hier het Timoteus dan ook dikwels saam met Paulus gereis om die boodskap aangaande Christus te verkondig.
 
Paulus skryf drie pastorale briewe. Twee aan Timoteus en een aan Titus tussen die jare 62 en 64 n.C. Dit word pastorale briewe genoem omdat beide Timoteus en Titus geestelike leiersfigure en ampsdraers in hulle onderskeie gemeenskappe was. Die doel van die briewe was om aan hulle onderrig vir hulle bediening of pastoraat te gee. In die briewe aan Timoteus lê Paulus sterk klem op hoe belangrik die bediening van die woord vir hom as voorganger in die gemeente is. Dit is veral in 2 Timoteus 3:10 en verder dat hierdie aspek van die bediening groot aandag kry, maar dwarsdeur die briewe praat Paulus ook van onderrig gee en om mense te leer. Hierdie onderrig of lering weet ons is bedoel om te handel oor die woord. Alhoewel die Bybel soos ons dit ken nog nie bestaan het nie, is hierdie woord waarvan Paulus telkens praat altyd dit wat reeds oor God en Jesus en die Heilige Gees bekend was.
 
'n Baie besondere gedagte rakende die woord kom dan ook in ons vers vir vandag voor. Paulus gee hier vir hom 'n wonderlike versekering dat wanneer hy met die verkondiging en bediening van die woord besig is, hy self ook gevoed sou word deur “woorde van die geloof en die goeie leer wat jy noukeurig volg”. Hierdie uitspraak is vandag nog net so geldig. Elkeen van ons wat besig is met die uitdra van die woord, en jy hoef nie 'n predikant te wees om dit te doen nie, sal deur dieselfde Woord gevoed word. Hoe meer ek gee, hoe meer word my honger gestil.
 
Gebed: Hoe kan ons ooit genoeg dankie sê dat U ons wil gebruik om die woord van verlossing uit te dra en in die proses self ook die heerlike gawe van u woord te kan geniet. Amen