Ben Fourie 

“Hoe sal 'n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woord. … U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my lewenspad.” Psalm 119:9,105, 2020-vertaling
 
Daar is in al die jare wat ek by die Bybelgenootskap werksaam is min dinge wat vir my meer vreugde verskaf as die projek om aan graad 7-eerders 'n Bybel te skenk. Van kleins af het die twee teksverse waarna ons vandag kyk vir my besondere betekenis gehad, juis omdat die Woord as riglyn in my eie lewe so belangrik is.
 
Die graad 7-projek word op twee maniere bedryf. Eerstens in streeksverband en tweedens deur 'n groep Christen motorfietsryers genaamd die Word Riders. Dit was my voorreg om vir elf jaar lank elke jaar saam met die Word Riders skole dwarsdeur ons land te besoek en die grootste voorreg was om die vreugde op kindergesigte te sien wanneer hulle vir die eerste keer in hulle lewe 'n eie Bybel ontvang.
 
Die rede waarom dit vir ons so belangrik is dat kinders en jongmense, maar ook elke ander mens, 'n eie Bybel moet besit, is opgesluit in hierdie twee verse uit Psalm 119. Sonder God se woord as riglyn kan ons nooit weet hoe om Hom reg te dien nie. Die digter gebruik ‘n mooi woord, wat ons met suiwer vertaal, om aan te dui dat daar in elke mens wat Hom opreg wil dien se lewe geen plek is vir valsheid nie, geen plek vir bedekte sondes nie, geen plek vir dwalings nie. 'n Lewe vir God moet suiwer wees of dit is nie regtig 'n lewe vir God nie.
 
Is so 'n lewenspad regtig moontlik? Ons is almal maar al te bewus dat dit dikwels sukkel-sukkel gaan om suiwer te leef, maar daarom het ons die Woord so nodig. Juis wanneer ons soms op ons lewenspad in die donkerte van siekte, verlies, depressie, kleingeloof of dalk selfs 'n stuk ongeloof verdwaal, is hierdie lamp onontbeerlik om ons die pad te wys. Ons struikel dalk dikwels op die klipperige lewenspad en as omstandighede die pad nog donkerder maak, is dit net sy Woord wat die pad so verlig dat al struikel ons soms, sal ons nie uit die genadige hand van God wegval nie.
 
Gebed: Hoe kan ons ooit genoeg dankie sê vir u woord wat elke dag vir ons die pad helder verlig. Amen