Carina Francke 

“Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat die Here ons God na Hom sal roep.”
 
Hierdie bekeringsuitnodiging van die apostel Petrus was gerig aan elke Pinksterfeesganger wat getuies was van die bonatuurlike uitstorting van die Heilige Gees. Fisiese tekens het die vertrek gevul waar die dissipels bymekaargekom het: die klank van 'n geweldige stormwind en iets soos tonge van vuur het op elkeen gekom. Almal in die vertrek is met die Heilige Gees vervul en het in ander tale begin praat soos wat die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. (Handelinge 2:2-4)
 
Die Geesgevuldes praat in tale waarvan hulle geen woord ken of verstaan nie. Die godsdienstige Jode uit ander nasies het verstom en grootoog gestaar na die verskynsel. Hoe is dit dan dat elkeen in hulle eie moedertaal die boodskap hoor van die groot dinge wat God doen! En dit uit die mond van boorlinge in Jerusalem! (Handelinge 2:11)
 
Gelei deur die Heilige Gees, stel Petrus die gebeure in perspektief. Wat voor hulle gebeur, is die vervulling van die woorde van God aan Joël, die Ou Testament profeet: "Ek sal my Gees uitstort op alle mense …” (Handelinge 2:17) Alle mense? Ja! Die Woord leer dat seuns en dogters, dienaars en dienaresse as profete sal optree; jonges sal gesigte sien en oumense sal drome droom. (Handelinge 2:17-18) Dit is diegene wat hierdie Skrifgedeelte ter harte geneem het: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Handelinge 2:21). 'n Belofte wat in 2022 steeds van krag is! Kan jy sien hoe die Here met presisie gelowiges posisioneer om steeds vandag deel te wees van sy plan vir die wêreld?
 
Petrus doen 'n ernstige oproep: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (Handelinge 2:38) Wat was die uitkoms van hierdie gebeure? Ongeveer drieduisend mense wat Petrus se woorde aangeneem het, het gelowig geword en is gedoop. (Handelinge 2:41)
 
Maar dit eindig nie hier nie. Die belofte hierbo, is ook vir “jou kinders en vir almal wat daar ver is. Trouens, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” (Handelinge 2:39) Kan jy sien hoe die Here dit bewerkstellig het dat mense altyd deel sal vorm van sy plan met mense? Ook nou, in 2022? En ook tot op daardie dag dat Jesus op die wolke kom en elke oog Hom sal sien! Die vraag is net, gaan jy voete gee aan Jesus se “Gaan en vertel” opdrag in Matteus 28:19-20a: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Sy belofte aan sy medewerkers is: “Ek is by julle al die dae tot in die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20b)
 
Gebed: Hemelse Vader, baie dankie dat U menseskeppings gebruik om u meesterplan vir die mens in vervulling te bring. Dankie dat die Heilige Gees in ons lewens, ons in staat stel om u medewerkers te wees. Stel ons in staat om gehoorsaam te wees aan Matteus 28:19. Amen