Carina Francke 

Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.” Markus 5:19, 1983-vertaling
 
Toe jy en jou vriende moeg, maar baie dankbaar, na 'n stormnag op see, julle boot veilig aan wal bring, storm 'n baie aggressiewe, nakende manspersoon, skreeuend op julle af. Hy is beset deur 'n onrein gees. Julle ontdek later dat hy tussen die grafte bly en dat die stukkende, droë bebloede wonde oral op sy lyf, sy eie handewerk is – hy kap homself voortdurend met klippe.
 
In Markus 5:1-20, ontdek jy dat hierdie arme man werklik geleef het. 'n Onrein gees met die naam Legio, het hom beset. Niks kon hom gevange hou nie – nie eers voet- of handboeie nie. Hy breek en skop dit eenvoudig stukkend. Interessant, toe hy Jesus al van ver af sien, het hy nader gehardloop, voor Hom neergeval en hard om hulp geskreeu:” Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam moet my nie pynig nie!”
 
Waarom rig hierdie man die ernstige smeekversoek aan Jesus? Die bose gees ín hom wat sy lewe beheer, het Jesus herken as die Een wat alles weet en oor alles heers – ook oor hom, die bose gees, genaamd Legio! Jesus identifiseer onmiddellik die onreine se probleem en beveel met Goddelike outoriteit: "Onrein gees, gaan uit die man uit!” (Markus 5:8) Terselfdertyd reken Hy ook af met die bose Legio, wat God se beeld in die mens afskuwelik verwring het. Hy laat toe dat Legio in die tweeduisend varke vaar. Hulle sit op loop teen die hang af, die see in, en versuip – nie een het bly lewe nie.
 
Ons Jesus, onskeibaar deel van die Drie-eenheid, sal nooit toekyk dat sy menseskeppings onder die mag van die bose ly of vergaan nie. Hy bevry ons van elke aanslag van die bose op ons gees, siel en liggaam – as ons Hom daarvoor vra en erns daarmee meen. Hy staan gereed om met elke teisterende sonde, verslawing, gewoonte, afdwaling, en, en…jou hand te vat en jou van kettings te bevry.
 
Die wilde man met die baie bose geeste, bestaan nie meer nie. Jesus se outoritêre, gesagvolle bevel aan die onrein Legio-gees in die man, het volmaakte vryspraak in sy lewe bewerkstellig. Toe hy dus saam met Jesus en sy groep wou gaan, was dit nie vreemd nie. Jesus se plan met hom strek egter verder as net sy bevryding – daar is mense wat moet hoor wat in sy lewe plaasgevind het! “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.” (Markus 5:19)
 
Het hy Jesus se advies gevolg? Ja! “Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis bekend begin maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.” (Markus 5:20) Die vraag is, het jy al die pad begin loop om na jou eie huis en mense toe te gaan en aan hulle te vertel wat Jesus in jou lewe gedoen en verander het?
 
Gebed: Onse liefdevolle en genadige hemelse Vader, dankie dat mense steeds u prioriteit en fokus is. Dankie dat U ons ook vertrou met u “Gaan vertel”-agenda. En dat U nooit verwag dat ons dit alleen moet aanpak nie, maar dat die Heilige Gees in ons, ons versterk en bemagtig in alles wat ons aanpak. Amen