Carina Francke 

“Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.” Lukas 2:52, 1983-vertaling
 
Jesus, Seun van die Allerhoogste, koning van die Jode, eerstelingseun van Maria, word in Bethlehem gebore. Hy is vlees en bloed, 'n Joods gebore man met normale ontwikkeling. Doodgewone menslike ervarings was ook deel van Jesus se menswees. Hy raak in 'n skuit in 'n stormsee aan die slaap, beleef emosie van jammerte, huil by die graf van Lasarus en veel meer. (Matteus 8:5 ev). Hy is die beloofde Immanuel – God Self, wat onder sy volk woon.
 
Waarom laat Jesus toe dat Johannes Hom doop? Hy antwoord self: “Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam. (Matteus 3:15) Geen wonder nie dat die hemele bokant Hom oopgaan, die Gees van Jesus besit neem en God vanuit die hemel sy Seunskap bevestig: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My. (Matt 3:16-17)
 
En tog verhinder hierdie bevestigende gebeure nie dat Hy hierna vir veertig dae in 'n woestyn sou beland, waar Hy deur die duiwel versoek sou word nie. Hy weerstaan egter elke versoeking – Hy is immers die Seun van God en draer van die Gees. Deur sy totale gehoorsaamheid aan die wil van sy Vader, oorwin Hy triomfantelik die duiwel.” (Bybellenium, p1348)
 
Jesus se aardse bediening bring Hom ook na die sinagoge in sy groot-word dorp Nasaret. Soos sy gewoonte was, het Hy op die Sabbatdag die sinagoge besoek. Hier lees Hy 'n gedeelte uit Jesaja wat sy bedieningstaak uitspel. Anders as in ons moderne lewe, lê Hy nie klem op sy bekwaamhede en suksesse nie, maar op sy Bron: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy my gesalf het.” Om wat te doen?“Om die evangelie aan armes te verkondig; om vrylating vir gevangenes uit te roep; die herstel van gesig vir blindes; om onderduktes in vryheid uit te stuur.” En dan die hoogtepunt – “dit is die genadejaar van die Here.” (Lukas 4:18-19) Hy maak 'n verklaring: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul. (Lukas 4:21)Jesus, God se volmaakte plan!
 
Liewe Vriend/in, die genadejaar, is 'n oneindige ewigheidsjaar. Daarvoor het Jesus se dood en opstanding gesorg. Elke kragdaad waarna Hy daardie dag in die sinagoge verwys het, is steeds van toepassing op alle geslagte.
 
Sy bedieningsopdrag vergestalt God se liefde vir 'n stukkende, hinkende en verlore wêreld. Tereg het die profeet Jesaja gesê: "Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.” (Jesaja: 53:4) En dit, liewe leser, graveer die Ja! en Amen! op God se genadejaar, die ewigheidsjaar wat deur Christus aangekondig is! Vir jou en jou nageslag!
 
Die belofte van “Immanuel God met ons”, het begin met Jesus se geboorte; dit het momentum gekry tydens sy aardse lewe. En vandag, in die hier en nou, is ons ook deel van Hom, en van sy plan vir die wêreld en die mens.
 
Gebed: Hemelse Vader, baie dankie dat U ons nie as wese agtergelaat het om self te sien, kom klaar nie. U het by ons kom woon, sodat ons as mens met U as Persoon in verhouding kan staan. Amen