Ewald Schmidt 

“Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. Daar staan geskrywe: “As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!” 1 Petrus 3:9-11, 1983-vertaling
 
Hoeveel van ons moeilikheid in die lewe het met woorde begin? Die verkeerde woord op die verkeerde tyd het baie manne al 'n pak slae gekos. In die Bybel sien ons op so baie plekke hoeveel mag 'n mens se woorde het. Woorde kan vernietigend wees. Jakobus 3:5-6 noem dit 'n wêreld vol ongeregtigheid, 'n klein vuurtjie wat 'n groot bos afbrand. Woorde wat skinder, woorde wat vervloek is deel van die donkerte van ons wêreld. Bose gedagtes lei tot donker woorde, en donker woorde gaan maklik oor in bose dade.
 
Maar ons as kinders van God se lewens is nuut gemaak, en die vernuwing het by ons manier van dink begin. (Romeine 12:2) Jesus het gesê: Waarvan ons harte vol is, sal ons monde oorloop. (Lukas 6:45) As ons harte vol van die seën van die verhouding met Jesus is, sal seënwoorde ook oor ons lippe kom. Nuwe mense gebruik nuwe woorde. Ons seën waar ander vervloek. Ons begeer die beste vir ons naaste, en gebruik ons woorde en ons hande om dit te help bewerk. Dit kan net opreg gebeur waar iemand deur Jesus nuut gemaak is. Dit kom nie sommer maklik uit onsself nie.
 
Vers 10 van 1 Petrus 3 wil onderstreep hoe belangrik die manier wat ons praat werklik is, dit kan selfs jou lewensduur verleng! As jy die goeie in die lewe wil geniet, gebruik jou tong reg en pas jou lippe op. Ons is in 'n bose wêreld. Deur ons woorde kan ons meewerk om die bose al donkerder te maak rondom ons. Maar ons kan ook deur woorde van seën die goeie meer maak. Ons is geroep om in vrede met God te lewe. Paulus het ons ook in Romeine 12:18 geleer: “Sover dit van julle afhang, lewe in vrede met alle mense.” Gebruik woorde wat vrede bevorder. Nie net in jou binnekamer nie, gebruik ook woorde van vrede by jou werk, in die verkeer, en langs die braaivleisvuur. Eer die Here met jou woorde, en maak die wêreld vandag so 'n bietjie beter plek. Jou vredewoorde sal ook jou gemoed oplig, jou bui verbeter, en jou lewenskwaliteit bevorder. Probeer dit vandag!
 
Gebed: Here, dankie dat U my nuut kom maak het. Dankie dat U my in die lig kom lei. Vernuwe my denke, en help my om my tong en lippe te beheer deur u Gees. Help my om vandag U te eer deur elke woord! Amen
 
Ns. Baie dankie dat u gedurende April saam gereis het deur hierdie stukkie van 1 Petrus. As die lesers dit geniet het, kan ons die reeks by 'n volgende geleentheid voltooi.