Vrese en bekommernisse: Wat as ek misluk? - 18 Februarie 2022
Charlea Sieberhagen-Grey
“Ek het vir jou gesê jy moet sterk en dapper wees. Jy moenie bang wees nie, jy moet vir niks skrik nie, want jou God die Here sal by jou wees, oral waar jy gaan.” Joshua 1:9, Die Bybel vir Almal
Het jy geweet die Amerikaanse entrepreneur, filmmaker en illustreerder, Walt Disney, is in 1919 afgedank toe hy by die Kansas City Star-koerant gewerk het? Die koerantredakteur het gevoel Walt, wat toe as ’n spotprenttekenaar gewerk het, was nie kreatief genoeg nie. Kort daarna het hy ’n animasieateljee bedryf, maar dié was later bankrot. Dit was eers later, in 1928 wat hy sukses behaal het met die karakter Mickey Muis. Vandag is die naam Walt Disney wêreldbekend en sinoniem met kreatiwiteit en die wonderwêreld van animasieflieks.
Elke nuwe jaar bring nuwe uitdagings en geleenthede. Jy gaan dikwels self moet besluit hoe en óf jy die nuwe uitdagings gaan aanpak en die geleenthede gaan aangryp. Soms beteken nuwe uitdagings en geleenthede dat verandering om die draai is. En dít opsigself is vir baie mense ’n vreesaanjaende gedagte. Nie almal van ons hou noodwendig van uitdagings en verandering nie. Ons gemaksone is gewoonlik ’n veilige ruimte, waarom sal ons dan nou die appelkar wil omkeer?
Soms het ons geen keuse nie en soms weet ons ’n nuwe geleentheid is eintlik die regte stap om te doen. Dit beteken wel nie jy gaan dit noodwendig vreesloos aangryp nie. Want wat as jy misluk? Wat as jy nie goed genoeg is nie? Wat as jy ’n fout maak terwyl jy ’n uitdaging aanpak? Wat as jy dinge vererger?
Dit is belangrik om te onthou dat dit menslik is om foute te maak. Soms gáán ons misluk. God weet dit. Maar net omdat jy misluk het, beteken dit nie jy is ’n mislukking nie.
Die Bybel sê God wil hê ons moet “sterk en dapper” wees. Hy wil hê ons moet kanse waag en dinge probeer want dit beteken ons leer lewenslesse en ons groei. Dit leer ons ook om op Hom te vertrou want Hy beloof oor en oor in die Bybel dat Hy oral met ons saamgaan. Ons pak uitdagings hoegenaamd nie alleen aan nie en ons hoef nie ons probleme alleen te probeer oplos nie. God stap saam, Hy inspireer en lei ons.
Dit beteken ons hoef nie bang te wees vir mislukkings nie, ons moenie bang wees dat ons foute gaan maak nie, want God sal steeds by ons wees. Het jy al ooit anders daaroor gedink? In plaas daarvan om te fokus op jou vrees vir mislukking, het jy al gewonder: Wát as jy groot sukses behaal omdat jy op God vertrou het?
Gebed: Liewe Here, ek is soms so bang vir mislukking. Help my om nie bang te wees nie. Help my om die uitdagings en geleenthede wat oor my pad kom aan te gryp en vreesloos aan te pak omdat ek weet U is by my. Amen.