Doelwitte en voornemens: Moenie te vinnig kwaad word nie - 11 Februarie 2022
Charlea Sieberhagen-Grey
“Iemand wat nie gou kwaad word nie, is baie verstandig, maar iemand wat gou kwaad word, wys vir almal dat hy ’n dwaas is.” Spreuke 14:29, Die Bybel vir Almal
In Desember verlede jaar, het die akteur en grapmaker Leon Schuster vir die hoeveelste keer gesê dat hy nie sommer weer ’n fliek gaan maak waarin hy vreemdelinge poetse bak terwyl ’n versteekte kamera die toneel verfilm nie.
“Ek wil nie meer geklap word nie. Ek wil nie geskiet word nie. Dis ’n gevaarlike land ...” het hy aan ’n Sondagkoerant gesê. In 2015 het hy ’n soortgelyke ding gesê tydens ’n onderhoud met ’n Kaapse dagblad: “Maar deesdae kyk jy net skeef na iemand of betree hul ruimte en onmiddellik, sonder om twee keer te dink, vererg die mense hulle en raak so gou kwaad dat dit ’n gevaarlike bedryf geword het.”
Of jy sy flieks geniet of nie, is nie ter sprake nie. Maar as daar iemand is wat deur die jare gesien het hoe die mense van die land se lont al korter geword het, is dit Leon Schuster.
En op ’n manier is dit heeltemal te verstane. Ons woon in ’n land wat baie uitdagings het. Dit is moeilik om nié kwaad te word as mens oor en oor met swak dienslewering, wanbestuur, magsvergrype en misdaad gekonfronteer word nie. En ’n mens móét kwaad raak oor dié soort goed, want verkeerd bly verkeerd en as mense nie gaan kwaad word nie, gaan niemand ooit genoop word om verandering te probeer bewerkstellig nie.
Nou waarom herinner die Bybel ons om nie te gou kwaad te word nie? Daar staan mos in Galasiërs 5 geskryf: “Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik en goed, hulle doen wat hulle belowe, hulle word nie maklik kwaad nie ...” (Galasiërs 5:22-23, ABA)
In die 1983-vertaling word dit as “sagmoedigheid” beskryf. Wat ’n mooi woord!
En ek glo dit gaan hier daaroor om elke dag, wanneer jy wel met ander mense te doen het, sagmoedig te probeer wees. My man stuur net nou die dag vir my ’n foto met ’n roerende boodskap: “Today you could be standing next to someone who is trying their best not to fall apart. Whatever you do today, do it with kindness in your heart.”
Ten spyte van al die onregverdigheid en slegte dinge wat dikwels rondom ons gebeur, bly dit tog so ’n belangrike stukkie waarheid om te onthou. Rondom ons – by die werk, by die kerk, in die winkelsentrum, selfs in die verkeer, is baie mense wat elke dag moeilike omstandighede en uitdagings moet oorkom. Ons ken nie almal se storie en omstandighede nie. Almal probeer om op hul eie manier kop bo water te hou. So, dalk is dit nie so ’n slegte idee om vanjaar tot 10 of 20 of 30 te tel voor jy reageer nie ...
Gebed: Liewe Heer, hoewel daar baie dinge is wat ons so dikwels geweldig kwaad maak, vra ek dat U my sal help om my woede nie op die mense rondom my te projekteer nie. Help my om sagmoedig te wees en ander mense met deernis te behandel sodat my optrede ook van u liefde kan getuig. Amen.