Louise Gevers 

Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het. Lukas 1:80, 2020-vertaling
 
'n Stem roep: Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Araba 'n grootpad vir ons God gelyk. Jesaja 40:3, 2020-vertaling
 
Wie is die eienaar van die "stem" wat uitroep om die pad vir die koms van die Here gereed te maak?
 
Nee, ons verwys nie vandag na 007 in ons Advent-reeks nie. James Bond mag wel 'n man met baie missies wees – almal wat hy gesofistikeerd en met styl vir die koningin en vir sy land uitvoer – maar hy is nie gebore om die belangrikste missie ooit uit te voer nie: voorloper van die Messias. Dit was gereserveer vir 'n taaier en nederiger persoon wat reeds in die baarmoeder daarvoor bekragtig is!
 
Hy was die babatjie wat veroorsaak het dat sy bejaarde pa, Sagaria, stom geword het as gevolg van sy ongeloof toe die engel die baba se koms aangekondig het. Dit het geduur totdat die baba besny is en die naam Johannes gekry het. (Lukas 1:63-64) Hy is ook die baba wat in sy ma se baarmoeder gespring het toe Maria, swanger met Jesus, die kamer binnegekom en Elisabet gegroet het. (Lukas 1:41)
 
Johannes is reeds van voor geboorte met die Heilige Gees vervul (Lukas 1:15) en reeds op 'n jong ouderdom het hy in die harde, droë woestyngebiede gewoon, so simbolies van die sondige mensdom ontneem van die Gees. Hy het sonder om te wankel daar gebly totdat hy met sy openbare bediening begin het.
 
Sagaria het geprofeteer: En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitloop om sy paaie gereed te maak, en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word deur die vergewing van hulle sondes, …" (Lukas 1:76-77)
 
Johannes se missie was so belangrik dat hy op 'n buitengewone streng manier daarvoor voorberei is. Hy het vir 'n lang tydperk 'n asketiese bestaan in die woestyn gevoer. Hy het "… 'n kleed van kameelhaar gedra, met 'n leergordel om sy heupe, en sy kos was sprinkane en wilde heuning" (Matteus 3:4) en hy het geen sterk drank of wyn gedrink nie. Sy voorkoms was 'n stelling op sigself.
 
Johannes het bekering gepreek en vasberade die lyding van die menslike hart, verlore in die woestyn van sonde soos weerspieël in die droë woestynsand, aangespreek. Hy het mense geroep om hulle van verkeerde dinge en ongeregtighede te bekeer, hulle sonde te bely en hulle in afwagting te laat doop. Die Messias wat deur vergifnis die blydskap van die lewe sou herstel, was onderweg en Hy sou lewende water in die woestyn laat vloei as hulle hulle harte aan Hom gee. Dit sal hulle neem na " 'n gebaande weg, … Die heilige pad … dit sal vir dié wees wat op die pad hou." (Jesaja 35:8)
 
In hierdie Advent is Johannes se roepstem ook vir ons.
 
Ons kan vir Jesus se koms voorberei deur ons te bekeer, ons sonde te bely en sake met ander reg te stel. Ons moet gereinig word van die sonde wat ons vernietig en ons in die droë wildernis van wanhoop vaskeer. Doen ons dit, sal die Here vir ons 'n pad in die woestyn maak, water op ons dorre siele uitstort en die wilde diere mak maak. Hy sal ons dors les en ons harte bevry.
 
Gebed: Heilige Vader, vul ons opnuut met u lewegewende Gees sodat ons met nuwe oë kan kyk na die wonder van Jesus se koms wat alles kan en sal nuut maak. Amen