Deur Benescke Janse van Rensburg 

In Maart vanjaar het ek ’n 21 dae-reeks, Die Deurbraak gedoen. Vir my was dit ’n absolute stap van geloof, maar een wat ek in gehoorsaamheid geneem het omdat ek dit as ’n geleentheid beskou het waartydens deelnemers God se hand prakties in hul lewens kon beleef.
 
Ons almal het mos areas in ons lewens wat nie lekker is nie. Vir sommige is dit ’n gebroke verhouding. Vir ander eensaamheid of ’n stryd met hul gewig. Nog ander sukkel finansieel of smag na ’n baba of huweliksmaat. Die probleem wanneer ons bid oor hierdie sake en nie dadelik ’n antwoord kry nie, is dat ons dit as ons “lot in die lewe” begin aanvaar. Dít terwyl ons vergeet dat Jesus gekom het sodat ons ’n lewe in oorvloed kan smaak.
 
Vir 21 dae lank het deelnemers van iets gevas terwyl ons spesifiek oor hierdie areas gebid het. Die uitdagings in ons lewens het ek met bome vergelyk wat in ons lewens opgerig word. Wanneer ons dit egter eerlik identifiseer en begin om daaroor te bid, is dit soos ’n houtkapper wat rondom die dik stam van die boom begin stap en kap. Om finaal van die boom ontslae te raak moet ons egter ook die wortel daarvan identifiseer en bely sodat die boom finaal verwyder kan word.
 
Dit is nou maande later en ek ontvang stééds getuienisse van mense wat vertel wat God in hulle lewens kom doen het. Daar is eintlik te veel om te noem - deelnemers wat na jare swanger is, gebroke verhoudings wat herstel is, mense wat eindelik werk gekry het, finansiële deurbrake en net gister ontvang ek ’n getuienis van ’n deelnemer wat jare lank gesukkel met met haar gewig wat getuig dat sy haar eerste 10kg afgeskud het.
 
In Johannes 10:10 sê Jesus: “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” In Johannes 14:13 sê Jesus: “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.”
 
Dink vir ’n oomblik aan die dinge in jou lewe wat tans nie lekker is nie. Hoe sal jou lewe lyk as daardie “bome” val? Wil jy God nie ’n slag vertrou sodat Hy verheerlik kan word nie? Sterkte.
 
Vader God, vandag bring ek (noem jou situasie) na U toe. Wys my asseblief wat die wortel van die “boom” is. Lei my deur u Heilige Gees om te weet hoe ek diy wortel en tak kan uitroei sodat ek ‘n lewe in oorvloed kn smaak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
• Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
• Nog stories:
Webwerf: www.benescke.co.za
 
• TerugvoerVir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kandeel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.