Deur Benescke Janse van Rensburg 

Om voltyds in die bediening te wees, is somtyds uitdagend. Jy dra nie net jou gemeentelede se laste nie, maar ook jou eie. Vandag deel ek ’n getuienis van só iemand vir wie ek baie respek het.
 
Tertius: “My hart was swaar toe ek rondom 19:00 daardie aand buitentoe stap. Dit was reeds besig om donker te raak. Agter ons huis is daar ’n oop stuk veld met ’n parkie in. Ek het soontoe gestap om asem te skep en ernstig met God te praat. Die las op my skouers was swaar.
 
“In ons gemeente het ons ’n groot bedrag geld benodig om sendingspanne Afghanistan en Pakistan toe te stuur. Die spertyd om die vliegtuigkaartjies en visumaansoeke te betaal was op hande en ons het nie die geld gehad nie.
 
“Buiten vir die sendinguitreik was ons kind siek. Ons moes medikasie by die apteek kry en dokters betaal en ons het ook nie die geld daarvoor gehad nie.
 
“Tot op daardie stadium het ons ’n paar keer reeds beleef hoe God kan voorsien, maar ek het nodig gehad dat Hy my geloof moes kom versterk. My hart was seer.
 
“Terwyl ek nog met God praat, het ek bewus geword van ’n wind wat dwarrelend oor die parkie in my rigting aangewaai kom. Ek het ’n kortbroek gedra en gevoel hoe iets teen my bene vas waai. My eerste gedagte was dat dit blare is. Verbaas het ek gesien dat dit ’n geldnoot is wat by my voete lê. Terwyl ek opkyk in die rigting waaruit die wind oomblikke vantevore gewaai het, kon ek sien hoe nog twee of drie geldnote in my rigting aanrol.
 
“Die totale bedrag was nie groot nie, maar dit was genoeg om my hart nuut met geloof te vul. Dáár in die parkie het ek geweet dat God van my weet. Ons kon met die geld my kind se medikasie by die apteek betaal en dit was nie lank voordat ons beleef het hoe God deure oopgemaak het sodat ons die sendinguitreikspanne se kaartjies kon koop en ook hoe my kind se doktersrekeninge betaal kon word nie. God is waarlik goed!”
 
Tertius is reg. God is die Skepper van die heelal, maar Hy is ook betrokke in die detail van ons lewens. Soms het ons nodig om mekaar te herinner aan sy belofte in Filippense 4:6-7“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
 
God is ons Voorsiener. Hy wil hê ons moet met Hom gesels oor alles wat ons pla sodat Hy ons vrede kan gee en ook kan wys wat Hy kan doen. Sterkte.
 
Vader God baie dankie dat ek my bekommernisse met U kan bespreek. Ek bring vandag (noem spesifiek jou bekommernis) na U toe. Vul my asseblief met vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Nog stories:
o    Webwerf: www.benescke.co.za
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..