Deur: Benescke Janse van Rensburg 

’n Gewone oggend in September het vir Alicia Lamprecht van Kaapstad in ’n nagmerrie ontaard toe haar voertuig gekaap word met haar 7 maande oue seuntjie, Henco steeds in sy karstoeltjie vasgegespe. . .
 
Alicia en ’n vriendin het rondom 10:00 die oggend buite haar voertuig gestaan en gesels. Sy was op pad om te ry. Die vriendin se hondjie het uitgehardloop uit die hekkie en beide vroue het dit probeer keer om nie in die straat te beland nie. Meteens het Alicia se voertuig met skreeuende bande weggejaag. ’n Kaper het ongesiens in die voertuig ingespring.
 
“Dit is moeilik om daardie oomblik aan enigiemand te probeer beskryf,” vertel Alicia oor die oomblik waarin sy besef het dat die kaper met haar voertuig en haar kind weg is. Terwyl Alicia agterna gehardloop het om te sien in watter rigting hulle ry, het haar vriendin in die huis ingehardloop om die gewapende reaksie-eenheid, die polisie en die buurtwag te ontbied.
 
Die gewapende reaksie-eenheid was eerste daar. Alicia, wat intussen besef het dat sy haar voertuig op haar selfoon kon volg weens die nasporingsisteem (tracker) in haar voertuig, het by die voertuig ingespring en hulle het haar kar gevolg. In ’n stadium het die sein gewys dat die voertuig stilstaan. “Ons het hoop gehad,” vertel Alicia. Teleurgesteld het hulle egter haar voertuig verlate in die veld gevind – sonder haar kind! “Al wat ek in skok kon uitkry was: ‘Jesus help!’” vertel Alicia. Sy het na die gewapende reaksie-eenheid se man gedraai en gevra: “Glo jy in God?” Toe hy sê “ja,” het sy sy hande gevat en hulle het saam gebid dat God haar kind sou beskerm en dat Hy hulle sou lei om Henco te vind.
 
Alicia het ook haar ma gebel wat by ’n gemeente betrokke is en haar gevra om hulle gebedspanne te aktiveer. Ook haar skoonma en ’n ander vriendin wat in bediening is, het dieselfde gedoen. Gou was gebedsgroepe regoor Suid-Afrika besig om vir klein Henco se veiligheid te bid.
 
Vir drie ure lank het Alicia en ’n span mense aan die een kant en ook haar man Coenie en ’n groep mense by hom alles in hulle vermoë gedoen om Henco op te spoor. Toe kom Coenie se oproep: “Liefie, ek het hom. Hy is ok.” Almal was in trane. Die verligting was groot. ’n Wonderwerk het gebeur.
 
’n Paar dae later in die Sondagkoerant het Emelda, die weldoener wat Henco gevind het, haar kant van die storie vertel. Sy bly in ’n gevaarlike woonbuurt wat bekend is vir bendegeweld en ander donker dinge. Daardie oggend was sy op pad winkel toe om ’n brood te gaan koop, toe die kaper skielik langs haar stop, die baba in die karstoeltjie in haar hand druk en sê: “Kyk na die kind”. Hierna het hy weggejaag. In die artikel sê Emelda: “Ek sidder om te dink wat sou gebeur het as die baba in die verkeerde hande beland het. . . Dit kon baie bad geëindig het. Die Here het daai dag gesorg dat ek die baba moes vind.”
 
In 2 Kronieke 16:9 lees ons: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” Ook in Matteus 21:22 lees ons: “As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”
 
God sien ons in noodsituasies raak. Hy hoor ons gebede. Hy stuur sy engele uit om ons te beskerm. Was dit Hy wat die kaper gelei het om klein Henco af te laai op die plek waar Hy reeds iemand geposisioneer het wat Hom ken? Geen duisternis kan oorwin wanneer ons opstaan en bid nie! Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat ons kan weet dat U nooit sluimer of slaap nie en dat U ons gebede hoor. Beskerm asseblief vandag my kinders en geliefdes. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Sien foto van die Lamprecht-gesin en ook Emelda die weldoener by www.benescke.co.za of hier: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..