Carina Francke 

“God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” 1 Johannes 1:5b, 1983-vertaling
 
Ek is die lig van die wêreld. Wie my volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Johannes 8:12, 1983-vertaling
 
Lig is 'n metafoor vir waarheid, vir alles wat goed, reg en heilig is, maar is ook 'n metafoor vir kennis wat onkunde ontbloot. Lig word veral met God die Vader en Jesus Christus geassosieer. En jy, ek en elke ander gelowige word onbeskaamd uitgenooi om ook lig in 'n donker wêreld te wees deur God se lig in ons, te reflekteer.
 
Wanneer God en Jesus praat of doen, staan duisternis opsy vir lig. God sê in Genesis 1:3 aan die stikdonker op die diep waters: ”Laat daar lig wees!” En daar was lig. Van God word gesê: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (1 Johannes 1:5b.) Die mens wat dus beweer dat hy aan Hom deel het, en steeds in die duisternis ronddwaal, lieg blatant en handel nie volgens die waarheid nie. (Lees: 1 Johannes 1:6)
 
Die Fariseërs bring 'n vrou wat op heterdaad in owerspel betrap is, voor Jesus sodat Hy 'n vonnis volgens die wet kan vel. Hulle motief? Om Hom uit te lok sodat hulle iets kan kry om Hom aan te kla. Jesus kloof die duister motief agter hierdie versoek oop – die een met 'n skoon gewete, kan die eerste klip gooi. Niemand reageer nie. Jesus skryf met sy vinger in die grond. Steeds geen klip nie. Verdryf deur die teenwoordigheid van Jesus, die ware lig, sluip skuifelvoete van die duisternis koes-koes weg. Jesus nooi die vrou sy ligkring in: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”(Johannes 8:11) Duisternis word verpoeier tot niks.
 
By 'n ander geleentheid rig Jesus 'n uitnodiging aan onvolmaakte mense soos ek en jy om deel van sy lig te word: ”Ek is die lig vir die wêreld. Wie my volg, sal nooit in die duisternis wandel nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Johannes 8:12) Wat 'n belofte! Duisternis moet die hasepad kies voor die Lewenslig in ons, want ons elke tree loop die spoor van Christus na.
 
Sy woorde bemagtig ons en leer ons hoe: “Julle is die lig vir die wêreld. … Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Matteus 5:14,16) Kortom, die Godheid se lig in jou, moet tot gevolg hê dat jy as mens van die lig sal leef. Selfs al bevind jy jou onder ontaarde en korrupte mense, moet jy steeds as ligdraer optree deur die woord van die lewe uit te dra. (Lees Filippense 2:15-16.)
 
Gebed: Vader, U is die Gewer van geestelike lig wat my die waarheid laat sien en ken. Dankie dat die Heilige Gees my voortdurend herinner dat u woord die lamp vir my voet en die lig op my pad is. Amen