Carina Francke 

God het vir Moses gesê: “Ek is die Here! Ek het aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige, maar my Naam, die Here, het Ek nie aan hulle bekend gemaak. … Daarom moet jy vir die Israeliete sê: Ek is die Here. Eksodus 6:1-2,5a, 1983-vertaling
 
Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie. 1 Samuel 2:2, 1983-vertaling
 
God praat nooit anoniem met die mens nie. Sy Name leer ons wie Hy is. Aan Moses stel Hy homself voor as: “Ek is die Here!" (Eksodus 6:1). Aan Abraham, Isak en Jakob verskyn Hy as God die Almagtige (El-Shaddai). Dit was eers toe die tyd aanbreek om sy volk van slawerny te bevry, dat Hy Homself aan hulle openbaar as: “Ek is die Here.” (Eksodus 6:5) Hy neem hulle aan as sy volk, en Hy sal vir hulle wees: “Die Here, julle God.” (Eksodus 6:6)
 
Hanna, 'n kinderlose vrou bid in die tempel tot die Here om haar skoot oop te maak met 'n seun. Sy maak 'n gelofte aan die Here Almagtige dat as Hy haar gebed verhoor, sy die seun sy lewe lank aan die Here sal gee. (1Samuel 1:11) Hy verhoor haar gebed en toe Samuel nog 'n klein seuntjie is, neem sy hom na die tempel om in diens van die Here Almagtige te staan. Haar jubel- en lofgebed is 'n verklaring: “Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie." (1Samuel 2:2)
 
In Johannes 9 lees ons die wondergebeure waar Jesus 'n blindgebore bedelaar genees deur spoegklei aan sy oë te smeer. Nadat die man homself in opdrag van Jesus in die Siloambad gaan was het, kom Hy siende terug!
 
Meer as fisiese genesing het die mens egter geestelike gesondmaking nodig – die hernuwing van sy gees. En dit sluit jou en my in. Jesus vra die man die belangrikste vraag wat jy iemand kan vra: “Glo jy in die Seun van God?” waarop hy antwoord: “Wie is Hy, Here dat ek in Hom kan glo?” Jesus: “Jy het Hom gesien; en Hy wat met jou spreek, dit is Hy. (Johannes 9:35-37, 1933/53-vertaling) Hierdie openbaring ontknoop sy tong: “Ek glo Here! En hy het Hom aanbid.” (Johannes 9:38, 1933/53-vertaling)
 
Om die Vader en Jesus aan te spreek as “Here” of “Heer” (kurios – Grieks) moet met ontsag en heilige respek gepaardgaan. Die titel “kurios” dra in sy wese die betekenis van gesag. Anders as 'n mens wat gedelegeerde gesag ontvang, IS die ewige God en ewige Jesus die Gesag – die Superieure Oppergesag wat in dié lewe, in die dood en die ewige lewe hierna, die Oppergesag sal bly! Vanuit hul Godheid word besluite geneem en opdragte gegee. Ons algehele gehoorsaamheid aan die Here se wil, is ononderhandelbaar. Nie uit slaafse vrees of knegskap nie, maar vreugdevol en gewillig. (Strongs p1203) Dit is ook voor hierdie Kurios dat elke knie nog gaan buig en elke tong sal uitroep: “Jesus Christus is die Here!” tot heerlikheid van God die Vader. (Filippense 2:11)
 
Gebed: Here, dankie dat die Oppergesag ons hoop is in 'n onderstebo wêreld. Alle eer en lof kom U toe. Amen.