Carina Francke 

“Here, onse Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het.” Psalm 8:2, 1983-vertaling
 
“Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou, want U het u Naam en u woord bo alles gestel.” Psalm 138:2, 1983-vertaling
 
Vandeesmaand fokus Vers-'n-dag op die name van God en Jesus.
 
God is die Skepper en Oorsprong van alles. Ook van name. Elke skeppingswonder is 'n naam gegee: aarde, lig, aand, hemel, see, bome, man en vrou – jy kry die idee. Die eerste mens gee aan elke dier 'n naam. Wat sou die maatstaf wees? Voorkoms? Aard? Funksionaliteit in die natuur? (Genesis 2:19-20)
 
Wanneer die Naam van God en Jesus ter sprake kom, het ons te doen met 'n onbeskryfbare, heilige Opperwese waaraan woorde in 'n gebrekkige, stotterende mensetaal nie reg kan laat geskied nie. Dit is byna soos om in die donker met net 'n flits 'n kunswerk te waardeer. Jy sien net flertse en gedeeltes van die kunswerk, nooit die volle dimensies daarvan nie. God se Naam is kort, maar kragtig en veelseggend: “EK IS”. En dit staan vas: Hy het sy Naam en woord bo alles gestel. (Psalm138:2)
 
Hy, die Lig van die wêreld, verlig ons verstaan van wie Hy is, deur sy name en karakter-eienskappe. Dit openbaar die aard van die Godheid en stel ons in staat om sy almag en verhewendheid te leer ken, te respekteer en daarin skuiling te vind: Spreuke 18:10 (1983-vertaling) sê nie om dowe neute nie: “Die Naam van die Here is 'n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling.”
 
God wil ook dat ek en jy aan 'n naam geken word. Ek vermoed dit is omdat geen mens by Hom, net 'n nommer, of een van die miljoene in die menskudde nie. Nee, elke mens is geskape na God se beeld. Uniek. Jou naam, en by implikasie jou karakter of aard, en hoe dit homself uitspeel, verskil van enige ander mens s’n op hierdie aarde. Van ons sê Hy ook soos aan Jeremia: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as my profeet vir die nasies aangestel.” (Jeremia 1:5) Wat 'n onvergelykbare Skepper-God dien ons nie!
 
Gebed:  Hemelse Vader, Ek wil u Naam tot in ewigheid prys. Dankie vir u selfopenbaring deur u name. Ons kan verstaan met wie ons te doen het – die Onvergelykbare, Allerhoogste, Almagtige, enige God en Seun. Mag ons geestesoë sien wat ons moet sien. In die Naam van Jesus. Amen.