Ben Fourie 

“Toe Petrus omdraai, sien hy dat die dissipel vir wie Jesus liefgehad het, hulle volg, die een wat ook tydens die maaltyd teen sy bors aangeleun en gevra het: … Dit is daardie dissipel wat van hierdie dinge getuig en hierdie dinge geskryf het …”  Johannes 21:20,24, 2020-vertaling
 
Beide die Evangelie volgens Johannes en die Openbaring is eers omtrent 90-95 n.C. geskryf. Daarom dink sommige geleerdes dat dit nie deur Johannes geskryf kon wees nie. Tog word dit geredelik aanvaar dat die inhoud, al is dit in mondeliks oorgedraagde vorm, toegeskryf kan word aan Johannes, die seun van Sebedeus en broer van Jakobus. Die twee broers word saam op 'n dag, waar hulle vissersnette aan die heelmaak was, deur Jesus geroep om Hom te volg.
 
Hierdie ontmoeting en roeping verander albei se lewens totaal en al, maar dit is veral van Johannes wat ons heelwat meer hoor. Daar was 'n besondere toegeneentheid tussen hom en Jesus. Die Bybel vertel vir ons hy was “die dissipel vir wie Jesus liefgehad het”. So sterk was hierdie band dat wanneer Jesus sterwend is aan die kruis, dit Johannes is wat Hy uitkies om verder na Maria, sy moeder, om te sien.
 
Johannes was 'n baie bevoorregte mens. Nie net het hy vir amper drie jaar lank saam met Jesus gelewe nie, maar in Openbaring 2:9-20 sien hy Jesus, nou nie meer as mens nie, maar as volg: “Toe ek omdraai het ek sewe goue kandelare gesien, en in die middel van die kandelare, iemand net soos die Seun van die Mens” en in vers 14: ”Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vlammende vuur.” Hier is die verheerlikte Jesus in al sy goddelike heerlikheid en Johannes is bevoorreg om dit sien en te ervaar.
 
Die ontmoeting met Jesus dra egter ook 'n groot verantwoordelikheid, want Johannes het die taak om die gebeure rakende die lewe van Jesus op skrif te stel. Hy skryf verder nog drie kort briewe waarin veral liefde en waarheid beklemtoon word en aan hom word die Openbaring toevertrou. Ons is net so bevoorreg om die lewende Jesus elke dag in sy Woord te ontmoet en 'n blik op die ewige lewe te kry en op ons rus ook 'n verantwoordelikheid om daarvan te gaan vertel.
 
Gebed: Baie dankie dat ek ook vir Jesus elke dag deur Woord en gebed kan ontmoet. Help my om ook die boodskap van liefde wat Johannes vir ons van geleer het, uit te leef. Amen