Ben Fourie 

“Jesus sê vir haar: ‘Maria!’ Sy het omgedraai en - in Hebreeus – vir Hom gesê: ‘Rabboeni!’ Dit beteken ‘Leermeester’.” Johannes 20:16, 2020-vertaling
 
Ons hoor die eerste keer van Maria Magdalena in Lukas 8:2 waar vertel word van die vroue wat saam met Jesus en die twaalf apostels gereis het. Maria was afkomstig uit die dorpie Magdala wat aan die wesoewer van die meer van Galilea geleë is, en uit wie sewe demone uitgegaan het.
 
Die voetnota in Die Bybel 2020 vertaling noem dat in die bronteks sy deurgaans Maria, die Magdaleense vrou genoem word, dws Maria die vrou afkomstig uit Magdala. Ons kan haar dus nie verwar met een van die ander Marias nie. Saam met die ander vroue het sy uit eie bronne gesorg vir Jesus en die twaalf. Sommige verklaarders het al probeer om haar te identifiseer as die Maria wat vir Jesus met reukolie gesalf het, maar daar is nie regtig gronde vir die siening nie.
 
Die volgende plek waar ons haar weer ontmoet, is by die kruis van Jesus waar haar naam saam met 'n aantal vroue genoem word, onder andere Jesus se moeder en die se suster, asook Maria, die vrou van Klopas. Interessantheidshalwe was Maria se suster waarskynlik Salome, die vrou van Sebedeus en dus moeder van Jakobus en Johannes wat hulle twee dan Jesus se neefs maak. Verder vertel Lukas dat die vroue wat vir Jesus uit Galilea gevolg het saam met Josef van Arimatea gegaan het en gesien het waar sy liggaam in die graf neergelê word. Ons kan dus aanneem dat Maria Magdalena ook by die begrafnis was.
 
Al die maande wat sy saam met Hom gereis het, al die kere wat sy vir Hom kos gemaak het en sy klere gewas het, al die gesprekke en geleenthede wat sy Jesus se wonderwerke gesien het, het haar egter nie voorberei op die ontmoeting daardie vroeë Sondagmôre by die leë graf nie. Van al die baie kere dat sy Jesus ontmoet het, sou hierdie die heel belangrikste wees, want om die opgestane Jesus te ontmoet is vir elke mens die belangrikste ontmoeting wat jy ooit kan hê.
 
Op die oomblik dat Jesus haar daar buite die graf op haar naam noem en sy haar omdraai en Hom sien, val alles wat sy vir so lank saam met hom ervaar het, in plek: Rabboeni dit is U, U leef! Hy leef ook vir jou en my.
 
Gebed: Ons harte sing saam 'n lied: “Jesus leef en ons met Hom, dood wie sou vir jou nog bewe.” Dankie vir die leë graf, dankie dat U ons ook op die naam roep, dankie dat U ons vrymaak van die vrees vir die dood”. Amen