Ben Fourie 

“Teen dagbreek het al die leierpriesters en die familiehoofde van die volk teen Jesus 'n besluit geneem om Hom dood te maak. Hulle het Hom toe geboei, weggelei en aan Pilatus, die prokurator, uitgelewer.” Matteus 27:1-2, 2020-vertaling
 
Die geskiedskrywer en filosoof Philo noem Pilatus 'n onbuigsame en hardkoppige man, een wat maklik omgekoop is, gewelddadig en iemand wat dikwels mense die doodstraf opgelê het sonder verhoor (The New Bible Dictionary). Dalk was Philo bevooroordeeld omdat hy self 'n Jood was, maar baie hiervan was sekerlik waar. Vir ons is dit moeilik om te oordeel aangesien daar ongelukkig verder baie min van Pilatus bekend was behalwe dat hy hoegenaamd nie gewild was onder die Jode nie. Die Bybel teken hom as iemand wat hom deur die Joodse owerstes laat beïnvloed het en waarskynlik vir Jesus laat kruisig het omdat hy bang was dat die Jode andersins weer in opstand sou kom.
 
Pilatus is in 26 n.C. deur die Romeinse keiser, Tiberius, as vyfde prokurator of goewerneur van Judea aangestel, 'n amp wat hy tot in 37 n.C. beklee het. So 'n prokurator het baie uitgebreide magte gehad en het oor lewe en dood beskik. Hy kon die Sanhedrin se vonnisse tersyde stel, het die hoëpriester aangestel en die tempel en die tempel se fondse bestuur. As 'n mens kyk na die feit dat hy omtrent tien jaar lank as prokurator opgetree het, was hy goed in sy amp.
 
Alhoewel hy sekerlik nie so gedink het nie, sou die besluit of Jesus vrygelaat of gekruisig moes word, die heel grootste besluit van sy lewe wees. Hierdie besluit het hom wel in die geskiedenis bevestig maar vir die verkeerde redes. Sonder dié besluit sou ons net so min van Pilatus af geweet het as wat ons weet van sy voorganger Valerius Gratus.
 
Uit die gesprekke tussen Jesus en Pilatus kan 'n mens agterkom dat hy wel besef het dat hierdie gevangene anders is as die baie gevangenes wat hy vantevore al laat kruisig het. "Is u die koning van die Jode?", vra hy byvoorbeeld en ook die bekende woorde: “Wat is waarheid?” Ten spyte van sy besef dat hierdie man nie die dood verdien nie en iemand spesiaal is, laat hy Hom tog kruisig eerder as om die Joodse owerstes se argwaan te wek.
 
Pilatus kry 'n unieke kans deur sy ontmoeting met Jesus, maar helaas kies hy sy eie belang bo die van Jesus.
 
Gebed: Here, help ons om in moeilike situasies nie ons eie belang voorop te stel nie, maar so te kies dat die uitbreiding van u koninkryk eerste sal wees. Amen