Ben Fourie 

“Daar was 'n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, 'n leier van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê ‘Rabbi ons weet dat u 'n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens verrig wat u verrig as God nie met hom is nie.’” Johannes 3:1-2, 2020-vertaling
 
Die tydperk van vierhonderd jaar tussen die boek Maleagi en die Nuwe Testament word nie in die Bybel beskryf nie, maar wel in die sogenaamde Apokriewe of Deuterokanonieke Boeke. Israel het in die tyd vir 'n groot deel onder heerskappy van die Silesiese koninkryk gestaan, 'n ryk wat die Joodse geloof geminag het en die tempel ontheilig het. So het koning Antiochus Epiphanes byvoorbeeld 'n vark op die altaar in die tempel geoffer.
 
Onder leiding van 'n priester, Judas Makkabeus, kom hulle in opstand en verslaan die Silesiese magte. Na die opstand en oorwinning word die Hasmoniese ryk van priester-konings gevestig wat vanaf 140 v.C. regeer het tot 37 v.C. Dit is in die tyd van die Hasmoniese ryk dat die Fariseërs na vore gekom het as skrifgeleerdes en handhawers van die godsdienstige wette. Sedert ongeveer 76 v.C. het die Fariseërs 'n meerderheid in die Joodse Sanhedrin gehad.
 
Dit is teen dié agtergrond dat ons na Nikodemus moet kyk. As Fariseër en waarskynlik lid van die Sanhedrin, was hy deel van 'n groep wat vir meer as 'n eeu die Joodse godsdienstige wette in hoë aansien gehou het. In hulle strewe na suiwer wetsonderhouding het hulle ongelukkig baie rigied geraak in hulle siening oor hoe die wette onderhou moes word. Vir 'n Fariseër om hoegenaamd in Jesus geïnteresseerd te wees, sê baie oor hoe diep hy onder die indruk van Jesus se leerstellings gekom het. Tog was hy nog so onseker dat hy in die nag na Jesus toe kom sodat sy mede Fariseërs nie moet weet nie. Na hierdie naggesprek waarin Jesus vir hom die basiese waarhede van die Evangelie verduidelik het, verdwyn Nikodemus voorlopig van die toneel af.
 
Ons hoor weer van hom in Johannes 7:50 wanneer hy nie meer bang is om Jesus openlik in die Joodse Raad te verdedig nie. Die laaste keer wat ons van hom hoor is in Johannes 19:39 wanneer hy nou as openlike volgeling van Jesus 'n groot hoeveelheid mirre en adelhout bring waarmee Jesus se liggaam volgens gebruik voor die begrafnis behandel moes word.
 
Vandat hy die eerste keer na Jesus kom, is daar voortdurende geloofsgroei. Nikodemus het verstaan wat dit beteken om van bo gebore te word.
 
Gebed: Ons bid U om ons elke dag te help dat ons ook elke dag al nader aan U sal groei. Amen