Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Barak en Debora - 3 Augustus 2012

Xanthe Hancox 

Sy het Barak, seun van Abinoam, uit Kedes in Naftali ontbied en vir hom gesê: “Het die HERE, die God van Israel, nie hierdie opdrag gegee nie? ‘Gaan, trek saam op die berg Tabor! Neem tienduisend man uit die nageslag van Naftali en Sebulon saam met jou; dan sal Ek vir Sisera, die bevelvoerder van Jabin se leër, met sy strydwaens en troepe na jou lok, na die Kisonspruit. Ek gee hom in jou hand.’ ”Maar Barak het vir haar gesê: “As jy met my saamgaan, sal ek gaan; maar as jy nie met my saamgaan nie, sal ek nie gaan nie.” Sy sê toe: “Ek sal beslis met jou saamgaan. Dit sal egter nie tot jou eer strek op die pad waarop jy gaan nie, want in die hand van 'n vrou sal die HERE Sisera oorlewer.” Debora staan toe op en gaan saam met Barak na Kedes. Rigters 4:6-9, 2020-vertaling
 
Gister het ons na die geloofshelde van Hebreërs 11 gekyk. Miskien wonder jy ook hoekom Barak, in stede van Debora, op die lys ingesluit is. Hy was na alles traag om sonder Debora te gaan veg, miskien weens 'n gebrek aan geloof.
 
Barak het genoeg rede gehad om bang te wees. Die vyand het 900 strydwaens gehad! Die Ou Testamentiese profete en rigters het egter 'n groot aandeel in die geveg gehad. Hulle het die troepe opgeroep en geïnspireer. Barak se versoek dat Debora, die profetes, hom moet vergesel was dus heel verstaanbaar.
 
Dit beantwoord nog nie die vraag hoekom Barak in plaas van Debora in Hebreërs 11 as 'n geloofsheld genoem word nie. Ragab, die prostituut, word immers vermeld, so hoekom word 'n sterk vrou soos Debora, 'n rigter en profetes, geïgnoreer? Ons weet nie verseker nie, maar navorsers dink dit het moontlik iets te doen om aanklank te vind by die oorspronklike Joodse lesers van Hebreërs wat 'n ander siening gehad het van wat vroue behoort te doen.
 
Maar daar is lesse te leer van Barak, die geloofsheld. Hy het Debora beslis vertrou. Hy het ook geweet dat hy die Here aan sy kant nodig het, en dat Debora oor die gawe van profesie beskik het. Debora kon dinge met haar geestesoog sien wat Barak nie kon sien nie. Dit het sin gemaak om Debora by hom te hê wanneer sy leër teen 'n gedugte vyand te staan kom. Toe Debora hom daaraan herinner dat die eer vir hierdie geveg 'n vrou gaan toekom, het dit nie vir Barak saak gemaak nie. Dit het nie vir hom oor eer gegaan nie, maar oor dit wat die Here wou hê hy moes doen en hy het geweet dat hy beter sou vaar met Debora aan sy sy.
 
Help jy diegene om jou? Is hulle laste ligter omdat jy in die omtrek is? Daar is geen groter vreugde as om mekaar op te bou en te help sodat ons die beste moontlik kan wees nie.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die voorbeeld van Barak en Debora. Help my om die gawes te erken van diegene wat U in my lewe bring om my te ondersteun. Help my ook om ander te ondersteun. In Jesus se Naam. Amen
Previous article: Ehud, die linkshandige man - 4 Augustus 2021 Prev Next article: Onwaarskynlike helde - 2 Augustus 2021 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.