Ewald Schmidt 

“Abigajil het gou twee honderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmer gebraaide koring, honderd trosse rosyntjies en twee honderd koeke gedroogde vye gevat en op donkies gelaai.” 1 Samuel 25:18, 1983-vertaling
 
Dawid het in 'n tyd gelewe waarin konings met meer as een vrou kon trou. Die romanse van 1 Samuel 25 is baie ongewoon. Dawid en sy manskappe in die veld was baie afhanklik van die versorging van omliggende boere. Ons lees van 'n baie ryk man, Nabal, wat in Maon gebly het. Hy kon maklik vir Dawid en sy manskappe sorg. Maar teen die gebruik van gasvryheid destyds weier hy om dit te doen. Dit klink moeilik, om vinnig vir 400 besoekers kos te gee. Nabal kon dit maklik bekostig, maar is suinig. Dawid beveel sy manskappe om hulle swaarde te gaan haal –hier kom groot moeilikheid!
 
Maar Nabal se vrou Abigajil maak vinnig 'n plan. Dit is 'n vrou wat kan raakvat, om so skielik met al die voorrade vir vandag se teks vorendag te kom. Sy gaan vra Dawid om verskoning, en herinner hom dat Nabal “dwaas” beteken, haar man tree soos sy naam op.
 
Nabal het daardie aand uitspattig feesgevier en dronk geword. Toe hy hoor dat Abigajil kos vir Dawid en sy manne geneem het, het hy van woede 'n beroerte gehad. Hy is tien dae later dood. Dawid het 'n goeie vrou geken as hy een sien, en met Abigajil getrou.
 
Ek is so dankbaar dat vroue nie meer mans se eiendom is soos in Dawid se tyd nie. Elke vrou behoort as 'n unieke en baie spesiale mens waardeer te word. Abigajil word voorgehou as 'n vrou om mee rekening te hou. Sy kon haar verstand gebruik, koelkop bly, en planne maak wanneer die omstandighede moeilik raak. Sy was 'n sterk vrou, wat nie met haar laat mors het nie. Dit sou in enige eeu 'n voorreg wees om aan die sy van so 'n vrou deur die lewe te loop.
 
'n Mens is gelukkig as jy geseënd is om met iemand soos Abigajil die lewenspad saam te stap. Dit is so belangrik om die ander persoon te waardeer en te geniet vir wie hy of sy is, sonder om hulle in 'n boksie te probeer indruk. Uit Abigajil se oogpunt: wees uniek jy, sonder verskonings. Die regte persoon sal jou waardeer net soos jy is.
 
Gebed: Here, ons lewe in 'n tyd waarin daar so baie verwagtinge aan elkeen van ons gestel word. Ons het sulke vooropgestelde idees hoe 'n verhouding en 'n lewensmaat moet lyk. Help my om net myself te wees, soos U my gemaak het. Baie dankie as U my seën met iemand wat my waardeer net soos wat ek is. Amen.