Ewald Schmidt 

“Jonatan seun van Saul het toe klaargemaak en na Dawid toe in Goresa gegaan en hom bemoedig in sy vertroue op God. Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want my pa sal jou nie in die hande kry nie. Jy sal koning word oor Israel, en ek sal onder jou staan. Selfs my pa weet dat dit so is.” Hulle twee het toe 'n verbond voor die Here gesluit. Dawid het in Goresa gebly, en Jonatan het huis toe gegaan.” 1 Samuel 23:16-18, 1983-vertaling
 
Goeie vriende staan saam deur dik en dun. Hulle beskerm mekaar in tye van krisis. Hulle ondersteun mekaar. Vriende lag vir mekaar se grappe, al het hulle dit al baie gehoor!
 
Vriendskap begin met twee mense wat aanklank by mekaar vind. Kommunikasie en tyd saam verdiep die vriendskap. Eers is daar net die cliché gesprekke, die alledaagse dinge soos sport en politiek, die grappies. Met verloop van tyd word vriendskappe dieper as daar op emosionele vlak gedeel word. Hoe jy dink en voel. Jy waag om jou idees met jou vriend te deel.
 
Daar is 'n nog dieper vlak van vriendskap, wat baie skaars in hierdie wêreld is. Ons sien dit tussen Dawid en Jonatan. 'n Verbond van vriendskap. 'n Verbond is 'n ooreenkoms waarin die Here een van die partye is. 'n Mens is baie geseënd as jy met 'n vriend op geestelike terrein kan verkeer. Wanneer vriende saam die Here dien. Jonatan het vir Dawid versterk in sy geloof, en bemoedig om moed te hou in donker dae. Jonatan het Dawid se roeping verstaan en erken, al was dit ten koste van homself. In ware vriendskap offer jy jouself op om jou vriend se belange te bevorder. Ware vriende help mekaar om hulle roeping in die lewe uit te leef. Hulle bid vir mekaar. Hulle bemoedig mekaar.
 
Om so 'n vriendskap te bou, vat baie jare se toewyding. Dit vra 'n reuse stuk vertroue, om soms weerloos voor die ander te staan. Hierdie vriendskappe werk nooit net in een rigting nie. Om so 'n vriend te hê, moet jy self so 'n vriend wees.
 
Die heel lekkerste huwelik is om met so 'n vriend getroud te wees!
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U ons u vriende noem in Johannes 15. Dankie dat U die voorbeeld van ware vriendskap is. U het u lewe afgelê vir u vriende. Dankie vir my vriende wat die Here saam met my dien. Help my om ook vir hulle te bid, en te bemoedig, dat hulle hoog kan vlieg op die vleuels van geloof. Amen.