Ben Fourie 

Daarna het sy broer uitgekom, met sy hand wat aan Esau se hakskeen vashou. Hulle het hom toe Jakob genoem. Genesis 25:26, 2020-vertaling
 
Vanaf sy geboorte ’n interessante figuur. Een van ’n tweeling, maar omdat hy tweede gebore is, word hy volgens die gebruike van sy tyd as die jongste gereken. Tog klou hy reeds by geboorte al aan sy broer se hakskeen vas en kry ook so sy naam. Die Hebreeuse woord vir hakskeen en die naam Jakob het dieselfde klank, maar die stam van die woord kan ook “bedrieg” beteken. Ten spyte van die naam merk God hom reeds voor sy geboorte as iemand besonders wanneer Hy vir Rebekka sê dat die oudste die jongste sal dien.
 
Kyk ’n mens na die wyse waarop Jakob beide Esau se eersgeboortereg en die vaderlike seën op ’n slinkse manier bekom het, klink die naam bedrieër nie te vêrgesog nie. Dit sou ook nie die laaste keer wees dat hy skaduagtige praktyke toepas nie. Hy bedink byvoorbeeld ’n plan om te verseker dat die kleinvee wat sy skoonvader Laban hom belowe het, beter aanteel as die van Laban self.
 
Tog het God ’n besondere doel met Jakob se lewe. Een nag droom hy van trappe wat na die hemel reik met God wat aan die bopunt staan en aan hom ’n belofte maak. Aan die Jabbokrivier kom dit tot ’n hoogtepunt wanneer hy daar met Iemand stoei. Wat daardie nag gebeur het en met wie Jakob geworstel het, kan ons nie regtig verklaar nie. Die meeste vertalings praat van ’n man, maar die Bybel sê ook in Genesis 32:28: “Toe sê hy: ‘Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel. Want jy het met God en mense stryd gevoer en het oorwin’”.
 
Na baie omswerwinge en ’n veelbewoë lewe word alles wat God vir Jakob se lewe beplan het verwesenlik. Die “bedrieër” word nou “God voer stryd”, want dit is min of meer wat die naam Israel beteken. Wat ’n groot kontras tussen bedrieër wees en nou die vader te word van die volk Israel met jou twaalf seuns die stamvaders van die volk.
 
Soos wat God nie ophou soek het om van Jakob, Israel te maak nie, soek hy elke dag om elke mens se naam te verander vanaf “sondaar” na “kind van God”.
 
Gebed: Hoe kan ons ooit u genade begryp wat ook van my as ’n “Jakob” ’n “Israel” wil maak. Dankie, dat U my dag vir dag nooit onder u bewarende hand laat uitglip nie. Amen