Carina Francke 

Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Romeine 8:11, 1983-vertaling
 
“… ons wat die Gees ontvang het as eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop.”  Romeine 8:23 1983-vertaling
 
Wat 'n kragtige en vertroostende wete vir die wedergebore kind van God! Ons sterflikheid of verganklikheid gaan verteer word deur lewe – die ewige lewe! Dit is God se belofte aan jou as sy kind. Jou redding en die inwoning van die Heilige Gees in jou lewe, is die seël en waarborg dat dit so sal wees. Moet egter nie jou hoop laat verflou, of tou opgooi omdat die lewe steeds uitdagings aan jou deur laat klop nie. Volhard in die geloof en verbly jou in die hoopvolle toekoms wat op jou wag.
 
Jy weet reeds dat Jesus tans besig is om vir ons 'n plek in die hemel voor te berei. (Johannes 14:2) Intussen is die Heilige Gees besig om ons, die kinders van God, voor te berei vir daardie plek. In sy boek, In Gees en in Waarheid, stel dr I Burger, dit so: “Die Heilige Gees ondersteun ons op ons pad van heiligmaking en stel ons in staat om deur die Gees te wandel en vrug te dra in afwagting op die koms van die Koning.” Anders gestel, die Heilige Gees wil die bruid gereed en voorberei hê vir die koms van die Bruidegom.
 
Die rol van die Heilige Gees by die wederkoms? Hy gaan die stoflike oorskot van elke kind van God opwek, verander en verheerlik: “Omdat die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Jesus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” (Romeine 8:11) Jy kan gerus ook 1 Korintiërs 15:51-54 deurlees vir 'n nog duideliker beskrywing.
 
In Johannes 3:26-29 beskryf Johannes die Doper homself as 'n vriend van die Bruidegom (Jesus) wat net “staan en luister of hy kom en baie bly is wanneer hy die stem van die bruidegom hoor.” Dit is presies wat die Heilige Gees ook doen. Openbaring 22 beskryf hierdie afwagting op die koms van die Bruidegom as volg: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En dan volg die antwoord: “Ja, Ek kom gou!” (Openbaring 22:20
 
En ons as afwagtende gelowiges eggo: “Amen! Kom, Here Jesus! Kom!”
 
Gebed: Hemelse Vader, maak u kinders se ore oop om te hoor wanneer die Heilige Gees uitroep: “Kom!” Ons wil saam met Hom uitroep en die bruidegom hoor roep: “Ja, Ek kom gou!” Amen.