Carina Francke 

“En hulle het deur die land Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig.” Handelinge 16:6, 1983-vertaling
 
In hoofstuk 16 van Handelinge, lees ek van 'n goed beplande sendingreis wat as gevolg van die Heilige Gees se betrokkenheid, 'n verandering in roete tot gevolg het.
 
Timoteus vergesel Paulus op sy tweede sendingreis. Die reisplan neem hulle van stad tot stad waar hulle die besluite van die leiers in Jerusalem aan die gelowiges oordra, maar hulle ook aanmoedig om dit te onderhou. Dit dra goeie vrug: die gemeentes se geloof word versterk, en die getal gelowiges groei daagliks. Genoeg rede vir twee reisende predikers om verder te reis. 
 
Hulle beplande bestemming is Asië, maar hulle moet 'n koersaanpassing maak, want: “die Heilige Gees het hulle verhinder om die woord in die provinsie Asië te verkondig.” Hulle reis verder tot by die grens van Misië, probeer om die grens na Bitinië oor te steek, maar word weer verhinder. In Handelinge 16:7 lees ons dat die Gees van Jesus hulle dit nie toegelaat het nie. Hulle reis toe maar deur Misië en oornag in Troas.
 
Sien jy wat gebeur hier? Hulle moet hul roete aanpas as gevolg van hindernisse op hulle pad. Dit is in Troas, in die (gedwonge) stilte van 'n nagrus, dat die Heilige Gees Paulus se volle aandag kry. In 'n naggesig staan 'n man uit Masedonië by hom en smeek dat hy na Masedonië moet kom om hulle te help. (Handelinge 16:9) Die manne reageer op hierdie versoek en vertrek so gou moontlik na Masedonië omdat hulle besef dat die Here hulle geroep het om die evangelie daar te verkondig.
 
In jou en my lewe raak ons soms ook meegevoer met die sukses van 'n projek of aksie waarmee ons besig is. Ons beplan vir beter, groter en meer – onvermydelike grypdiewe van meer tyd, haastiger en besiger. Asemskep om stil te word sodat jy kan onderskei tussen jou plan en die kolskootplan wat die Heilige Gees in gedagte het, vervaag tot 'n wens.
 
Soms gaan deure vir jou toe. Dit beteken nie noodwendig dat jou taak, opdrag of roeping vir 'n spesifieke saak 'n permanente “Nee” is nie. Jy moet dalk net 'n koersaanpassing maak, omdat die Heilige Gees, die Gees van waarheid, die Gees van Jesus, vir daardie oomblik 'n ander opdrag het wat prioriteit geniet en wat deur jou uitgevoer moet word. Jy het net nodig om stil te word en te luister waarheen die Gees met jou vir nou oppad is. Gehoorsaamheid aan sy leiding is waar jou vervulling lê!
 
Gebed: My Vader, dankie vir die leiding van die Heilige Gees in my lewe. Ek span egter soms die kar voor die perde in en wag nie op Hom vir die bloudruk nie. Help my om, wanneer U die koers aandui, te wag vir die bevestiging van die Heilige Gees in my gees. Dan sal die regte deur(e) ook op die regte tyd oopgaan. Amen.