Carina Francke 

“Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” Handelinge 1:5, 1983-vertaling
 
Jou wenkbroue lig as die leier van jou span elke nou en dan laat val dat hy nie meer lank by julle sal wees nie. As hy 'n tydjie later terloops meld dat sy plaasvervanger groter voordeel vir julle inhou, verklap jou toeknyp lippe jou ontsteltenis. Jy skud jou kop toe hy sê dat hierdie plaasvervanger oor die vermoë beskik om elke individu se potensiaal maksimaal te ontwikkel en dat hy permanent by julle sal wees. Hy sal julle lei en alles leer wat nodig is: kennis, insig en vaardighede wat ongekende voordele sal inhou vir die individu en die span. Nou wag julle. Al waaroor julle sekerheid het, is dat hy op pad is.
 
Voor Jesus se dood, dra Hy by verskeie saamkom geleenthede 'n soortgelyke boodskap oor. Hy waarsku sy apostels dat Hy van hulle moet weggaan, maar dat Hy hulle nie alleen sal los nie. “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur wat altyd by julle sal wees, naamlik die Gees van waarheid.” (Johannes 14:16) Na sy opstanding bevestig Hy die belofte, maar dring daarop aan dat hulle Jerusalem nie moet verlaat nie, maar moet wag op die gawe wat die Vader belowe het: “Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” (Handelinge 1:5)
 
Op die dag van die Pinksterfees (10 dae na hemelvaart), was hierdie groep gelowiges eendragtig in die bovertrek bymekaar toe skouspelagtige gebeure voor hulle plaasvind. Die vertrek waar hulle was, word skielik gevul met 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind. Tonge soos van 'n vuur, het hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En toe gebeur die onverwagte, die bonatuurlike: “Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.” (Handelinge 2:4, 1983-vertaling)
 
Godsdienstige Jode van verskillende nasionaliteite was in Jerusalem vir die fees en het gehoor hoe gewone Galileërs oor God se groot dade in elkeen se moedertaal praat. Gelei deur die Heilige Gees, verduidelik Petrus dat hierdie gebeure 'n vervulling is van God se woord aan die Ou Testament profeet Joël: “Ek sal my Gees uitstort op alle mense.” (Handelinge 2:17)
 
Anders as die span in ons inleiding, hoef ons as 'n Christusgelowige span, nie te wag op 'n nuwe leier om ons potensiaal maksimaal te ontwikkel nie. Ons Leier of Voorspraak, die Gees van waarheid, het in volle krag op Pinksterdag reeds gekom. En Hy is steeds hier – elke oomblik van elke dag! En net vir ingeval jy nie hierdie waarheid glo nie, laat die Woord self praat: “Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” (Handelinge 2:39)
 
Gebed: Vader, dankie dat elke belofte van U – ook dié van die uitstorting van die krag van die Heilige Gees – tot in ewigheid sal vasstaan. Amen.