Vers n dag - 2 Desember 2011
Goddelike betrokkendheid as geskenk
Hennie Symington
Wie is God? En wat is Hy? Hy is die eerste en enigste God wat Hom deur die Woord aan sy skepping bekend gemaak het. Die mens het Hom nie gaan soek nie; Hy het ons kom soek.
Hy is die God wat roep. Hy roep na Adam en Eva in die paradys. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” Genesis 3:9
Hy roep Abram om te trek en Moses om sy volk uit Egipte uit te lei.
Hy is nie die Onbekende God nie – Hy stel Hom voor aan die mens: "Ek is is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Eksodus 3:6
Hy is die Alfa en die Omega - die A tot Z van die heelal. Hy is ewig, Hy is alwetend. Hy ken die verlede, die toekoms en die hede. Sy naam is Groot bo almal, onuitspreeklik: YHWH. Hy het baie name: Jehova, Elohim. Vir Moses was Hy “Ek is”, vir Paulus “Abba” of Vader. Romeine 8:15
God is die ruimte waarin die mens hom bevind. Daarom lui een van die oudste seënbedes: God voor my uit, God bo my, God agter my, God rondom my. Hy omvou jou met sy ruimte waarbinne jy die buitenste grense van jou siel, en as jy wil, die heelal met sterre- en sonnestelsels onbeperk kan verken.
Hy is die skepper van skoonheid: Alles wat mooi, alles wat helder, alles wat lieflik is, alles wat deurtrek is van skoonheid, heelheid en prag – dit het God gemaak. Die prag van die skepping spreek van die grootheid van God. Wanneer ons ons verlustig aan die natuurskoon, ervaar ons estetiese genoegdoening. Ons staan verwonderd oor die vermoëns van die menslike gees en verstand terwyl die mag van die natuur ons asems telkens wegslaan.
Dit alles het God ingebou in sy skepping: En God het teruggesit en kyk hoe sy skepsels behae daaruit put. “En God het gesien dit is goed.” Genesis 1:10c
Gebed: Here, dat U U aan die mens kom bekend stel het, is ʼn onbeskryflike geskenk. Dat U ons na u beeld gemaak het en gekies het om met ons in gesprek te tree; dat U die skepping aan ons toevertrou het, is onbegryplik. Daarom loof ons U vir u grootheid, liefde en genade. Amen