Deur Benescke Janse van Rensburg 

Ivan Tuttle was as jongmens gelowig. Ná skool het hy egter in dwelms en ’n losbandige leefstyl betrokke geraak. Sy getuienis van hoe sy lewe verander het, het my opnuut laat besef dat daar werklik krag in ons as ouers se gebede vir ons kinders lê.
 
Ivan was 26 jaar oud toe hy met ’n bloedklont in sy kuit gediagnoseer is. Die dokters het hom gewaarsku dat as hy weer sou gaan dans (wat hy en sy vriende oor naweke gedoen het) en die bloedklont kom los, dit sy lewe kon kos.
 
Ivan het nie gehoor gegee nie. Kort hierna was hy weer op die dansbaan. Daardie nag terug in sy bed het hy wakker geskrik. Daar was ’n sterk greep op sy pols. Alhoewel hy verbete probeer terugveg het, het hy besef dat die krag waarteen hy veg te sterk vir hom was. ’n Bose teenwoordigheid by hom het hom oorweldig. Toe Ivan terugkyk na sy bed, kon hy sy liggaam sien. Hy het instinktief geweet dat hy gesterf het en ook dat hy op pad was hel toe.
 
Angskrete van mense wat gemartel word asook ’n aaklige reuk het Ivan oorweldig by sy aankoms in die hel. Hy beskryf dit as “’n plek sonder enige hoop. Net trane, marteling en vrees”. Hy sê verder: “Dit is verskriklik om te besef dat jy nooit hier gaan uitkom nie. Jou spyt vir jou sonde en dat jy jou rug op Jesus Christus gedraai het, kan nie met woorde beskryf word nie.” Hy was reeds besig om deur Satan en sy demone gemartel te word toe ’n harde stem meteens opklink: “Los hom. Dit is nog nie sy tyd nie. Ek het ’n belofte aan sy ma gemaak.”
 
Die volgende oomblik was Ivan in die hemel. Hier het hy die teenoorgestelde van die hel beleef. Hy beskryf die hemel soos volg: “Die hemel is ’n plek sonder pyn, aggressie of depressie – net vrede en ’n gevoel van vervulling en blydskap. Dit is waar jy vir ewig wil wees,” sê hy.
 
Nadat Ivan teruggestuur is aarde toe om sy getuienis te deel, het hy uitgevind dat sy ma reeds vir jare haar hart drie maal per dag voor God uitstort en vir sy redding gebid het. Sy het God gevra het om ’n belofte aan haar te maak dat nie een van haar kinders se pad in die hel sou eindig nie. Sy het geglo dat Hy ’n belofte aan haar gemaak het. Sy was reg. Dit is 30 jaar later en Ivan deel steeds met passie die goeie nuus van Jesus Christus en beleef dat mense toe redding.
 
Is daar ’n geliefde in jou lewe wat nog nie ’n verhouding met Jesus Christus het nie? Of iemand wat, soos Ivan, sy of haar hart teenoor God verhard het weens teleurstelling of seerkry? In 1 Johannes 5:15 lees ons: “En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.” En in Markus 11:24 staan geskryf: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”
 
God wil ons red. Hy het sy enigste Seun gegee sodat ons nie verlore hoef te gaan nie. Kom ons bely ons sonde en nooi Hom om in beheer van ons lewens te wees sodat ons saam met Hom ’n ewigheid kan spandeer in die plek sonder pyn, aggressie of depressie – net vrede en vreugde! Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat U my gebede hoor en ook kan verhoor. Ek bring vandag (noem die persoon se naam) na U toe. Raak hom/haar aan met U Heilige Gees en bring hom/haar op ’n plek waar hulle U Seun as Verlosser sal aanvaar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
FOTO: Sien foto van Ivan Tuttle by www.benescke.co.za of hier: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/ 

NUWE BOEK: Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/