DAG 15: VERANDERING IS MOONTLIK - 19 Februarie 2021
Deur Benescke Janse van Rensburg
Vroeër die week het Ford aangekondig dat al sy passasiersmotors vir die Europese mark teen 2030 deur elektrisiteit aangedryf sal word. Sy aanleg in Keulen word teen $1 miljard hiervoor ingerig.
Vir jare reeds word gepraat oor die nadelige effek van uitlaatgasse van motors op die natuur – net soos die nadelige effek van plastiek op die oseaan. Tog is min gedoen om die probleem direk aan te spreek. Dit is eers wanneer plastieksakke glad nie meer beskikbaar is nie en daar slegs elektriese motors gekoop kan word, dat daar ’n verandering gemerk sal word.
In ons lewens is daar ook soms uitdaging wat jaar na jaar deel van ons lewens is – te min geld in die bank, te veel gewig om die lyf, ’n “ondergemiddelde” huwelik, ’n ongelukkige werksomgewing, noem dit. My vraag is: As jou situasie kon verander, hoe sou jy wou hê moet dit lyk? Dink vir ’n oomblik. En twee, wat het jy al gedoen om die uitdaging direk aan te spreek?
Om te bid vir verandering het ons nodig om ’n visie in ons hart te hê van hoe ons wil hê ’n situasie moet lyk as God dit verander. Dit gee ons hoop om aan vas te hou. In Hebreërs 11:1 lees ons: “Mense wat in God glo, is baie seker dat God die dinge sal doen wat hulle hoop. Geloof is 'n bewys van die dinge wat 'n mens nie kan sien nie.” (Die Bybel vir almal-vertaling) En dan het ons wysheid nodig om te weet wat ons prakties moet doen om die situasie te sien verander. In Jakobus 1:5 staan geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”
Hoe wil jy hê moet jou situasie lyk? Wil jy ’n ekstra stroom van inkomste hê sodat jy nie meer stres om al die rekeninge te betaal nie? Wil jy ’n gesonde, gelukkige huwelik bou waar beide partye mekaar respekteer? Wil jy sien hoe jou ongelowige kind sy knie voor God buig? Wil jy ’n werksituasie hê waar jy soggens uitsien om te gaan werk en nie daarteen opsien nie?
Wat gaan ons prakties doen om die uitdaging direk aan te spreek (want dis altyd makliker om niks te doen nie en net te kla)? Is ons bereid om weg te stap van sekere gewoontes en ander dissiplines te implementer in ons lewens? Is ons bereid om meer te bid vir ons huweliksmaats, kollegas, vir braafheid, vir selfbeheersing en selfs vir kreatiwiteit?
Kom ons kies dat 2021 nie net nog ’n jaar gaan wees met dieselfde uitdagings nie. Kom ons vra God om ons met sy Heilige Gees te vul sodat ons dapper genoeg sal wees om te doen wat Hy ons lei om te doen. God kan ’n verandering bewerkstellig wanneer ons begin om sy hart vir ons situasie te soek. Hy het immers sy Seun gegee sodat ons ’n lewe in oorvloed kan smaak. Mag dit jou beste jaar nog wees. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat verandering saam met U moontlik is. Ek bring vandag (noem jou uitdaging) na U toe. Vul my met wysheid en dapperheid om weg te stap van verkeerde gewoontes en om U te vertrou vir ’n beter toekoms. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
· NUWE BOEK: Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
· Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.