Hennie Symington

Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?  Lukas 1:43
 
Skielik is daar tekens van die kersgety wat oral kop uitsteek. As die winkels hulle toonvensters begin tooi met vrolike kersversierings, en die eerste klanke van “Kom herwaarts Getroues” en “Jingle Bells” deur die inkopiesentrums begin dawer, weet ons uit ervaring daar’s iets aan die kom. En binne in ons hart voel ons ook die eerste roerings van ʼn nuwe seisoen – ʼn seisoen gevul met aangename herinneringe en opwinding oor nog ʼn Kersfees wat in aantog is.
 
Kom ons keer terug na die tyd toe Maria op pad was na haar niggie Elisabet met die goeie nuus wat sy ontvang het, en die seuntjie Johannes in sy moeder se baarmoeder beweeg het by herkenning van Maria, die draer van die Verlosser.
 
Hierdie gedeelte herinner ons aan die tekens van hernuwing in ons eie lewe wanneer God elkeen van ons herken en roep met ʼn doel. Vir ons behoort Advent ook ʼn tyd te wees om te reflekteer op ons eie geskiedenis terwyl ons met ʼn oop gemoed vra: Waarom is ek hier? Met watter doel is ek geskep? Die Woord van God maak inderdaad vergesigte en drome by ons wakker. My vraag tydens Advent moet wees: Hoe kan ek help om God se droom vir die mensdom waar te maak? Trouens, die Woord daag ons uit om God na te doen in die manier waarop ons met die wêreld omgaan.
 
Maak Adventstyd op ʼn sinvolle wyse deel van die aanloop tot Kersfees vanjaar. Dink na oor die betekenis van Christus se geboorte en sy lewe op aarde. Op watter wyse gaan my nadenke oor Jesus se geboorte nuwe lewe gee aan die manier waarop ek vanjaar Kersfees vier?
 
Gebed: Here, daar is tye wanneer ons aan onsself twyfel of ons rigting verloor. Gee dat in die aanloop tot Advent ons nuwe lewe sal ervaar as nuutgeskeptes in U.  Amen