Vers n dag - 10 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Mislukking
Carina Francke
Skrifgedeelte:Luk 22:31
En die Here sê: Simon, Simon, kyk die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar ek het vir jou gebid dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk."
Almal ervaar een of ander tyd mislukking in dinge wat hulle aangepak het. Dit is egter nie maklik om te erken dat jou besigheid gevou het, dat jou huwelik aan flarde geskeur is, dat jy net nie oor jou afhanklikheid van drank, pornografie of wat ookal, kan kom nie. Mislukking is 'n pynlike ervaring, maak jou verleë en laat jou twyfel in jouself en jou vermoëns. Boonop plaas mense se opinies en verwagtinge verder druk op jou en laat jou later glo dat jy 'n mislukking is; iemand wat niks reg kan doen nie.
Wat ons egter uit die oog verloor, is dat elke mislukking of teleurstelling 'n geleentheid is vir persoonlike en geestelike groei........as jy besluit om met 'n leerbare gees op jou mislukkings te reageer!.
Ek lees van 'n man, Petrus, wat 'n paar keer mislukking gesmaak het. Hy daag Jesus om hom te beveel om op die stromsee te loop....en hy loop!. Maar toe hy die stormgolwe sien, begin hy sink (Matt 14:22-32). Die einde van sy gelopery op water! By 'n ander geleentheid word sy impulsiewe, oningeligte teregwysing van Jesus oor Sy naderende dood, vir hom 'n openbaring van sy onvermoë om God-dinge te bedink. (Matt 16:13-23). Later, toe Jesus hulle waarsku dat hulle hom almal in die steek gaan laat, neem hy op 'n arrogante, selfvoldane manier standpunt in: "Al sal almal aanstoot aan U neem, ek sal nooit....Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie" (Matt 26:33-35). En toe gebeur dit tog: hy verloën Jesus sonder om te blik of bloos! (Matt 26:69-75)
As die gebeure hier sou eindig, was daar vir my en jou ook nie hoop in ons mislukkings nie. Toe Petrus sink, roep hy na die enigste Een wat regtig kan help: "Here, red my! (Matt 14:30) . Toe die haan die derde keer kraai onthou hy Jesus se waarkuwing en...."hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween." (Matt 26:75.) Toe Jesus na Sy opstanding driekeer vir hom vra of hy Hom liefhet, is sy nederige antwoord: " Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet." (Joh 21:17)
Ek en jy hoef nie deur ons mislukkings gekniehalter te word nie. In Christus kan ons mislukkings 'n geleentheid word om ons afhanklikheid van Hom te verklaar, onsself deur Sy oë te sien en Hom toe te laat om Sy stempel op ons doen en late af te druk. Ek en jy is van Sy hulp verseker! Hy het immers "gebid dat jou geloof nie ophou nie." (Luk 22:32)
Gebed: Dankie Vader dat mislukking aan my die geleentheid bied om bietjie afstand te doen van my "Eie Ek" en in afhanklikheid na U te kom en te vra: "Here, red my?" Dankie dat ek deur my mislukkings, ook eerlik sal kan antwoord: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet (of nie)" Amen.