Deur Benescke Janse van Rensburg

Vandag wil ek ’n storie met jou deel oor God se vermoë om te voorsien wat ons nodig het – soms op interessante maniere. Dit is ’n storie van Henrick van Wyk:

Henrick: “Een oggend sowat 6 jaar gelede ontdek ek ’n video op YouTube getiteld, God’s love letter to you. Die woorde en teks in die video het my diep geraak. Met ’n brandende begeerte om die video met iemand te deel, besluit ek dat ek dit om 08:00 met Gloria, ons huishulp sal deel wanneer sy inkom.

“Terwyl ek nog vir Gloria wag, vang my oog vir Petrus, Gloria se man, wat buite ons huis verbystap. Ek roep hom nader met die woorde: ‘Kom kyk hier, ek wil jou iets wys!’ Nadat ek vir Petrus die video gewys het, sê hy met trane in sy oë: ‘Ja, God sorg vir ons.’ Ek kon dadelik sien dat iets fout is. Sy pa-oë was vol seer toe hy my vertel dat sy seun Thato wat eerstejaar op die Puk was, nie eindeksamen kon skryf nie omdat van sy klasgelde uitstaande was.

“Thato het saam met ons kinders grootgeword. Hy was ’n begaafde kind en juis hierom het ek hom saam met ons kinders by Kumon ingeskryf. Ek was bewus van die onderskeidings wat hy in sy eerstejaar op universiteit behaal het. Hy het B.Sc. Rekenaarwetenskap studeer.

“Saam met Petrus het ek geweet dat ons met ’n ramp op hande sit. Ek wou help, maar waar krap jy R32,000 uit. Ons het dit nie. My kop het verwoed begin dink.

“Uit desperaatheid, het ek Petrus se hande gegryp en gesê: ‘Nou bid ons! Jy in Pedi, ek in Afrikaans.’ Ons twee het gebid terwyl ons hande vashou. God se teenwoordigheid was só tasbaar in daardie oomblik dat dit gevoel het asof ’n elektriese stroom deur my hande beweeg. Selfs Petrus het getuig dat hy skokke deur sy lyf voel trek het.

“Nadat ons gebid het, sê ek vir Petrus: ‘Die Here gaan sorg, dit is verseker.’ Terwyl hy wegstap staan ek en bid: ‘Here, wat moet ek doen?’

“Ek stuur twee boodskappe uit aan besighede wat moontlik ’n beurs kan toestaan vir ’n baie belowende student. Letterlik minute later ontvang ek ’n antwoord van een van die persone met die boodskap dat hy die rekening persoonlik sal vereffen. Later die oggend word R32,000 in Thato se studenterekening inbetaal.

“Thato slaag sy eerstejaar met onderskeiding. Uiteindelik slaag hy sy honneursgraad in Wiskunde met onderskeiding. Vandag is hy ’n yslike groot man met ’n goeie werk in die rekenaarbedryf. God is werklik goed! Hy is steeds ons Voorsiener!”

Henrick is reg. God is goed. In Psalm 116:5: “Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons.”

Was dit God wat Petrus op daardie oomblik by die huis laat verbystap het? Het Hy dalk Henrick vooraf voorberei – net soos hy later die dag die weldoener se hart aangeraak het? God is nader aan ons as wat ons dink en soms nouer betrokke in ons lewens as waarvoor ons Hom die eer gee. Sterkte!

Vader God baie dankie dat U in die detail van my lewe belangstel. Help my asseblief om nie vreesbevange te raak in tye van nood nie, maar om deurentyd te onthou dat U ’n goeie God is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

  • NUWE BOEK: Kry Benescke Janse van Rensburg se nuwe boek, God is stééds Godhier: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik VERS vir ’n spesiale afslagprys. Koop twee boeke en kry jou posgeld gratis.
  • TERUGVOER: As jy wil terugvoer gee rondom die reeks of ook ’n getuienis het wat jy graag wil deel, gebruik gerus hierdie epos-adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..