Deur Benescke Janse van Rensburg

Kan ’n mens ’n gelukkige huwelik ná ’n buite-egtelike verhouding beleef? Ek deel graag ’n uittreksel uit my nuwe boek, God is stééds God.

Clarissa: “Die nuus van my man se buite-egtelike verhouding ná ’n huwelik van sewe jaar het my soos ’n vuishou in die maag getref. Dit het glad nie in sy karakter ingepas nie.

“Finansiële druk, lang werksure en geweldige stres het ons met tyd uitmekaar laat groei. Voor my was ’n keuse: Óf ek skei van JJ (met alle reg) en maak ons twee klein kindertjies alleen groot óf ek trek die wapenrusting aan en veg vir hierdie huwelik wat ek geglo het van God was. Ek het immers jare gelede ’n lysie gemaak van alles wat ek in ’n man wil hê en daaroor gebid. JJ was alles op die lys.

“Ná baie gebed, het ek besluit om vas te staan en te veg. Was dit maklik? Nee, die verwerping van ’n buite-egtelike verhouding los jou met ’n diep wond en baie emosies om te verwerk. Ek het byvoorbeeld in ’n stadium die 40 dae Love Dare uit die fliek, War Room, stilletjies met my man gedoen. Een van die dae was die opdrag dat ek ’n lys van sy goeie eienskappe moes neerskryf. Ek kon eenvoudig niks neerskryf nie. Die ontnugtering en verwyt was net te groot.

“In dié tyd het ek beleef hoe God my regop hou en wanneer ek nie meer kon nie, het die Heilige Gees vir my fluister, ‘Staan net sterk. Jy is nie alleen nie.’ Drie belangrike lesse het tot die finale draaipunt gelei. Die eerste was dat ek God moes vra om my te help om na JJ deur sy oë te kyk. Wanneer ek in my seer en selfs bitterheid na hom gekyk het, het ek niks goed raakgesien nie. Deur God se oë kon ek sien dat hy wel ’n uitstekende pa vir ons kinders is en ’n goeie maat vir my. Die tweede ding was dat ek vir JJ moes begin bid – nie kla teenoor God oor al sy tekortkominge nie, maar ek moes met ’n rein hart na God gaan en Hom vra om JJ te help om te word wie Hy hom geskep het om te wees. Ware intersessie is om met empatie na jou maat te kyk. In dié proses het God my goed uit JJ se lewe gewys wat ek voorheen misgekyk het. My gebede het meer spesifiek geraak. En die derde les was om te vergewe. Vergifnis is ’n keuse en dan verwerk jy die emosies. Om myself aan my besluit te herinner het ek sovêr gegaan om JJ se voete te was as teken dat ek hom vergewe. Ook sou ek snags wanneer hy geslaap het, in die huis bid en hom salf met olyfolie as teken dat ek hom aan God opdra. Die geestelike stryd wat ons stry het vir my ’n groter werklikheid geword as ooit vantevore.

“Die verandering in JJ se lewe en ook in ons huwelik was onbeskryflik. Op ’n dag was ek by ’n werksfunksies. JJ sou later by my aansluit. Terwyl ek met iemand gestaan en gesels het, het ek bewus geraak van ’n lang, aantreklike donkerkop man wat aangestap kom. Toe ek omdraai en vir JJ sien, het my hart ’n slag gemis by die besef dat hierdie man my man is. In daardie oomblik het ek geweet dat God my hart kom genees het.

“Vandag kan ek ’n lang lys van JJ se goeie eienskappe neerskryf. Hy is nie net die lang aantreklike donkerkop man waarvoor ek gebid het. Hy is die priester en profeet van ons huis. Ons lag saam. Ons koester mekaar. En ons beide weet dat God goed is en dat net Hy só volkome kon genees!” 

Clarissa is reg. God kan enige gebroke verhouding herstel as ons bereid is om te vergewe en vry te spreek. In Esegiël 36:26 lees ons: “Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee.” God herstel ons liggaam, siel en gees. Kom ons gee Hom ’n kans om dit ook in ons lewens te beleef! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U steeds gebroke verhoudings kán en wil genees. Help my om te vergewe waar dit soms moeilik is en help om na (noem die persoon se naam) deur U te kyk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • NUWE BOEK: Lees die volle verhaal van Clarissa en JJ in my nuwe boek, God is stééds God. Bestel die boek hier: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/Bestel enige twee boeke vir gratis posgeld. Gebruik VERS vir ’n spesiale prys.
  • TERUGVOER: As jy wil terugvoer gee rondom die reeks of ook ’n getuienis het wat jy graag wil deel, gebruik gerus hierdie epos-adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..