Deur Benescke Janse van Rensburg

Ons almal wil hê dit moet in ons persoonlike lewens en in ons besighede goed gaan. Tog, is ons bereid om God se beginsels in ons lewens en besighede toe te pas? Ek deel graag vandag die storie van besigheidsman, Dirk De Wal:

Dirk: “In September 2017 wou ek een van my besighede se deure sluit. Die bestuurder daar het kliënte verkul en groot bedrae geld by die besigheid gesteel. Sy optrede het ’n slegte kultuur in die besigheid geskep en terselfdertyd die besigheid ’n slegte naam gegee.

“In dié tyd stap twee kliënte by die besigheid in en vra of hulle vir my kan bid. Aangesien ek in daardie tydstip nie werklik ’n verhouding met God gehad het nie, het dit my totaal ongemaklik gemaak by die wete dat my kollegas deur die vensters van my kantoor kon sien dat daar vir my gebid word. Alhoewel die mans niks van die stand van sake in die besigheid geweet het nie, het een van hulle gesê: ‘Dirk, jy wil vandag die besigheid toemaak, maar ek ervaar dat God sê jy moenie. Hy sal dit herstel. Hy gaan die kroon van fyngoud op die besigheid terugsit.’ Ek het nie verstaan wat die man bedoel nie.

“In die maande ná hierdie gebed, het ons egter keer op keer beleef dat daar aan die einde van die maand genoeg geld in die besigheid was om die uitgawes en selfs onvoorsiene uitgawes te dek. Ons het ’n skoonmaakproses begin om kliënte wat ingedoen was te help en mense wat betrokke was by die ongeruimdhede uit die besigheid te verwyder.

“’n Week nadat ons die laaste van hierdie sake uitgesorteer het, het Armand Marais, my huidige vennoot, by die besigheid ingestap en ons het in ’n vennootskap begin. Armand se nou pad wat hy saam met God stap, het by my ’n behoefte laat ontwikkel om dieselfde te beleef. Met tyd het ons ’n nuwe kultuur in die besigheid begin vestig waar ons God ken in alles wat ons doen en Hom selfs toestemming vra voordat ons groot besluite neem.

“Die resultaat? Sedert Augustus 2018 het God die sluise van die hemel vir ons besigheid oopgemaak en ons geseën. Ons het beweeg van drie werknemers tot 21 (plus nog 8 subkontrakteurs). Ons omset is vandag dertigvoudig méér as wat dit destyds was. God het waarlik gekom en die kroon van fyngoud oor hierdie besigheid kom terugsit. Hy is waarlik ’n goeie God.”

Dirk is reg. God sien alles en dit is Hy wat ons seën wanneer ons regverdig en met integriteit optree. In Matteus 6:18 lees ons immers: “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” In Spreuke 21:3 lees ons: Die Here verkies dat 'n mens doen wat regverdig en reg is eerder as dat jy offers bring.” En in Jesaja 26:7 staan geskryf: “Die pad van die regverdige is reguit, U maak sy pad gelyk.”

Het jy ’n deurbraak in jou besigheid of persoonlike lewe nodig? Miskien is dit ook tyd om “voorraadopname” te neem en enigiets wat nie in lyn met sy wil vir ons lewens is nie wortel en tak uit te ruk. God sien wat verborge is – en Hy beloon dit. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U ’n God is wat ons wil seën met goeie dinge in ons lewens. Wys my asseblief as daar enige dinge in my lewe is wat nog nie in lyn is met U wil nie en help my om ook daarvan te weg te stap. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

  • TERUGVOER: As jy wil terugvoer gee rondom die reeks of ook ’n getuienis het wat jy graag wil deel, gebruik gerus hierdie epos-adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..