Ewald Schmidt

“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.” Filippense 4:8-9

Ons dink elke dag so baie gedagtes. Ons breine is die hele tyd besig om informasie in te neem, dit te sif, en gepaste reaksies uit te dink. Ons dink dikwels dat ons gedagtes gevorm word deur die omstandighede waarin ons lewe. Ons kan nie altyd ons omstandighede kies of verander waarin ons is nie. Maar die Woord van die Here sê ons het altyd beheer oor die manier waarop ons dink.

Dit bly 'n uitdaging. Ons word daagliks met so baie negatiewe nuus gebombardeer. Sosiale media het dikwels 'n baie negatiewe uitwerking op ons gemoed. Die hoofstroom media doen groot moeite om alles wat verkeerd loop in die wêreld, aan ons uit te wys. Ons word soms oorweldig deur die vloedgolf negatiewe nuus. Daar is 'n alternatief, sê Paulus. Ons kan kies om ons gedagtes te rig op dit wat positief in die lewe is. Dit vra 'n verandering van ons. In plaas daarvan om deur die nuus gedryf te word, het ons nodig om tyd in die Here se Woord te spandeer, en te lees watter wonderlike beloftes Hy oor ons lewe uitspreek. Ons het nodig om elke dag bewustelik te lewe, om die Here se vingerafdrukke in die klein dingetjies te begin raaksien. In die kleinste blommetjies rondom ons, die tekstuur van 'n boom se bas, die kleure van die sonsondergang. Ons moet leer om raak te sien wat mooi is, en in dankbaarheid dit vir die Here te begin sê.

Wat gebeur wanneer ons die mooi aktief begin opsoek in elke dag? Wanneer ons leer om dankbaar erkenning aan die Here te gee daarvoor? Ons sal sy vrede ervaar. Ons sal sy teenwoordigheid raaksien.

Alles begin tog by die manier waarop ons dink. Gedagtes lei na keuses – wat maak ek met die inligting? Keuses lei tot dade – wat moet ek nou doen? Dit wat ek gereeld doen word my gewoontes, en my gewoontes vertel vir die samelewing wie ek is, my karakter. Negatiewe gedagtes lei tot negatiewe keuses, optrede, gewoontes. Dis waar die verandering moet kom. Kies om opbouend te begin dink, keuses te maak, en op te tree. Leer goeie positiewe gewoontes aan. En ervaar die Here se vrede steeds in elke dag.

Gebed: Dankie Here, dat ek aan U behoort, en dat ek elke dag onder u sorg lewe. U is in beheer, leer my om meer op U te vertrou. Help my om selfs in die moeilikste dae steeds u handewerk in my lewe raak te sien. Help my om dankbaar te wees vir dit wat U in my lewe doen. En vul my met u vrede vandag! Amen