Ewald Schmidt

“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.” Filippense 4:4-5

Praat Paulus nie so bietjie maklik nie? Weet hy hoe moeilik is die jaar 2020? Weet hy hoe swaar ons mense vanjaar kry? Wat sou Paulus sê as hy weet van die gesondheidskrisis, en die ekonomiese krisis, en al die haat en geweld rondom ons? Paulus sou presies dieselfde sê. Onthou, hy is onder arres as hy hierdie woorde skryf. Hy Is 24 uur per dag vasgeketting aan 'n Romeinse soldaat. Hy kan sy lewe verloor, sonder dat hy enige misdaad gepleeg het. Paulus se opdrag laat nie ruimte vir uitsonderings nie. Ons moet ALTYD bly wees. Maar hierdie blydskap wag nie vir die volmaakte omstandighede om eendag aan te breek nie. Hierdie blydskap is nie afhanklik van ons omgewing nie. Hierdie lewensvreugde vind ons in die Here. Hy is die onveranderlike in 'n gelowige se lewe. Hy het ons duur gekoop, en nuut gemaak. Hy het vir ons die ewige lewe gegee. Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Dit is ons vreugde: om Jesus te ken, en Hom te volg. Die fondament van hierdie opdrag sien ons in vers 5: “Die Here is naby …” Onthou Jesus se laaste woorde in die Matteus evangelie: “En onthou: Ek is met julle, al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:20)

Omdat Jesus saam met ons die lewenspad stap deur sy Gees, is Hy altyd naby. Dit verander ons gesindheid in die lewe. Ons leef tot sy eer. Dit raak ook ons menseverhoudinge. Omdat Jesus naby is, is ons inskiklik teenoor alle mense. Wat beteken dit? Dit beteken ons begeer die beste vir die mense wat ons pad kruis. Ons is vriendelik. Ons probeer hulle dien met die liefde van Jesus, ons probeer hulle lewens beter maak omdat Jesus se liefde ons lewe kom vul het.

Ons kan bly wees in die Here, selfs deur die trane heen. Ons is altyd veilig in sy hande, al kry ons seer in hierdie wêreld. Dit is hierdie blydskap wat mense van Jesus se liefde vertel. Paulus kan lofliedere sing in die tronk. Dit trek mense se aandag. Dis die uitdaging, dis ons getuienis: Jesus is naby, en daarom is ek altyd bly.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U altyd so naby aan my is deur u Gees, dat U selfs my gedagtes ken. U het belowe om met my te wees elke tree van die lewenspad, tot U my kom haal. Daarom vra ek vandag dat U my sal help om met 'n nuwe gees en gedagtes te lewe. Vul my hart met u blydskap, sodat ek altyd kan getuig van u liefde. Help my om inskiklik te wees teenoor alle mense, veral in hierdie dae. Amen.