Ewald Schmidt

“Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” Filippense 3: 13-14

Om Jesus as Here te ken, is 'n totaal nuwe lewe, sê Paulus. Die ou fondamente werk nie meer nie, die ou prestasies bevredig nie meer nie. In Christus is elke gelowige 'n nuwe mens. God se kind. Vrygespreek. Hoe raak dit ons lewens om Jesus te volg? Paulus verwys na twee gelyklopende prosesse in elke kind van die Here se lewe. In Efesiërs 4:17-24 noem hy dit die die afsterwe van die ou mens, en die opstanding van die nuwe mens.

Paulus sê: ek maak my los van wat agter is. Dis 'n bevrydende gedagte. Ek maak my los van die foute van my verlede. Elke mens het mos maar 'n geskiedenis agter ons, elkeen het foute langs die lewenspad gemaak. Ons is reeds vrygespreek, ons kan dit agter laat. Ons Here Jesus maak stukkende mense heel. Ons kan ook ons seer oorwin, met sy genade weer heel word. Ons maak los van die sonde wat ons verstrik het, soos die mooi beeld in Hebreërs 12:1-3 die lewenspad beskrywe. Ons maak los van ons ou manier van dink, ons negatiewe gedagtes oor onsself en ander.

Die nuwe lewe gaan egter nie net oor dit wat ons agter laat nie. In die plek daarvan kom die lewensreis saam met Jesus. Paulus gebruik die atletiekbeeld: ons is besig met 'n lewenswedloop, en ons reik uit na die wenstreep. Ons reik na groei, na nuwe, herstelde verhoudings. Ons reik uit na geloof, en hoop en liefde. Ons reik daarna om met ons lewe, ons gawes en geleenthede, God te vereer in alles wat ons doen. Ons strewe daarna om hierdie lewenswedloop so goed as moontlik te voltooi.

Die nuwe lewe in Christus is om los te maak van alles wat jou terughou om voluit te lewe. Dis om jou alles in te sit om die wenstreep te bereik, om 'n goeie wedloop te hardloop. Ons sit ons mislukkings agter ons. Ons lewe met vars genade. Die pad voor ons is 'n avontuur van lewe en groei saam met Jesus.

Gebed: Dankie Here, dat ons met u hulp al ons foute, al ons mislukkings, en al ons seer in die verlede kan agter laat. Dankie dat ons in U 'n nuwe mens is, wat elke dag met vars genade oorwinnend kan lewe. Help ons dan om met geloof en hoop die lewenspad voor ons saam met U aan te pak. Help ons om 'n goeie lewenswedloop te hardloop, tot u eer. Amen.