Ewald Schmidt

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.”  Filippense 2:5-10

Ons vind ons diepste innerlike vrede wanneer ons ander dien. Dit is slegs waar indien jy die regte rede gevind het waarom jy dit doen. Ons is nooit gelukkig wanneer iemand ons forseer om 'n nederige taak te doen, of iets wat ons as benede ons beskou nie. Ons eie sondige natuur rebelleer teen die idee van diens aan ander. Maar wanneer ons die roepstem van Christus hoor, begin ons Hom te volg op ons lewenspad. Ons luister na sy woorde, en ons kyk na sy voorbeeld. Hy is God. Hy het van sy verhewe posisie in die hemel afstand gedoen, om as nederige mens gebore te word, om ons te dien. Hy het enduit volhard met sy diens- Hy was bereid om soos 'n misdadiger aan 'n kruis te sterf in ons plek. Dit is die liefde wat Jesus vir ons kom demonstreer het. Dis waar die ware lewe lê- wanneer ons onsself kan begin verloën en ander dien, omdat Jesus ons gewys het hoe. Om die wêreld vir Hom te wen, moet ons leer voete was soos Hy.

Die Vader het sy Seun nie in 'n graf agter gelaat nie. Jesus het opgestaan, en Hy is verhef tot die hoogste ereposisie in God se koninkryk. Die eindresultaat van sy sending sal wees dat elke knie sal buig, en elke tong sal bely dat Hy Here is, tot eer van die Vader. Ons is geroep as sy dissipels, ons volg in sy voetspore. Ons dien sodat ander Jesus kan ken, dis ons rede vir diens. Daardeur word God verheerlik. Eendag sal ons in sy diens sterf. Ons sal uit die dood opgewek word, ons sal saam met Jesus voor die troon van die Vader wees. En ons sal met vreugde bely: Jesus is die Here, tot eer van die Vader. Ons dien om God te eer. Dit maak dit so 'n wonderlike daad.

Gebed: Here Jesus, toe U aarde toe gekom het, het U alles gegee om ons te red. U het niks teruggehou nie. U het in my plek gesterf. Deur u liefde en genade het ek die ware lewe ontvang. Ek volg in u voetspore. Help my om soos U nederig te wees, en te dien waar ek kan. Help my om 'n verskil in ander se lewens te maak, tot u eer! Amen