Ewald Schmidt

“Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.” Filippense 1:3-5

In Robin Williams se rolprent Dead Poet’s Society het een sin by my vasgesteek: “We read to know we are not alone …” Die lewe kan soms baie moeilik wees. Maar ons beleef dit veel erger as ons alleen deur die krisistye van ons lewe moet worstel. Dit is net soveel meer hanteerbaar wanneer ons die gevoel het dat daar ander mense is wat werklik vir ons omgee, wat ons harte ken, en wat vir ons intree in gebed. Dit is soveel meer bevredigend in die lewe om deel te wees van 'n groep mense wat op dieselfde reis is, en mekaar ondersteun.

Wanneer Paulus hierdie woorde skryf, is hy onder huisarres in Rome. Hy is gelukkig nie alleen nie, ons lees dat Timoteus en Epafroditos saam met hom is om hom te versorg. Maar in sy gebede is hy dankbaar as hy aan die gemeente in Filippi dink. Daar is 'n groep medegelowiges wat diep omgee wat met Paulus gebeur. Dit is manne en vroue wat van die begin af saamgestaan het, en saamgewerk het om die boodskap van Jesus in hulle gemeenskap te versprei. In hierdie woorde sien ons iets van gesonde kerkwees. Dit gaan oor mense wat aan mekaar vasgemaak is met bande van liefde, omdat hulle Jesus as Here leer ken het. Geloof is nie net 'n persoonlike saak nie, EK word deel van 'n groter ONS. In hierdie geloofsgemeenskap gee mense vir mekaar om, en ondersteun hulle mekaar in moeilike tye. Hierdie ondersteuning dra vir Paulus deur sy swaarkry tyd. Dit help hom om te weet daar is mense wat soos hy dink, wat omgee wat met hom gebeur. Hierdie mense het Epafroditos gestuur om Paulus te bemoedig, so sien ons in Filippense 2.

Mag ons hierin raaksien hoe belangrik ons liefde vir mekaar vir medegelowiges is. Mag ons prakties omgee vir mekaar, en mekaar bemoedig wanneer een van ons swaarkry. Ek hoop jy het medegelowiges in jou dankgebede elke dag, mense wat jou lewe verryk deur hulle geloof en inspirasie. Wees dan ook so 'n geloofsvriend vir ander, dat hulle die Here kan dank vir die rol wat jy in hulle lewe speel.

Gebed: Here, dankie dat ek nie alleen hier op aarde moet voortsukkel nie. Dankie dat u genade my deel van 'n geloofsfamilie gemaak het. Dankie vir medegelowiges wat vir my omgee, en vir my bid. Help my om ook 'n goeie geloofsvriend vir ander te wees, en in hulle lewens u genade sigbaar te maak. Amen