Vers n dag - 28 Oktober 2011
Kry jou prioriteite reg
Neville Turley
Jesaja 26:3
Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.
Ons leef in stresvolle tye en nie een van ons kan sê dat jy geen spanning en bekommernisse het nie. Ons bekommer ons oor die welstand van ons geliefdes, oor onsself, oor ons gesondheid, ons finansiële situasie, ons veiligheid en 'n magdom ander sake, te veel om op te noem.
Die Jode in die tyd van Jesus het ook baie gehad om hulle oor te bekommer. Hulle was burgers van 'n land wat deur die Romeine beset was en hulle was uitgelewer aan die genade van hulle Romeinse meesters. Hulle moes ook rekening hou met hulle eie leiers, wat deur hulle streng interpretasie van die godsdienstige wette en deur swaar belastings, elke aspek van hulle alledaagse lewe oorheers het.
Jesus se raad aan hulle was dat hulle hulle eers vir die koninkryk van God moet beywer en moet doen wat God van hulle vra. Hy sê dat hulle moet hulle ook nie gedurig afvra wat hulle gaan eet of drink nie of wat hulle gaan aantrek nie want hulle Vader in die hemel weet wat hulle nodig het. Hy wat vir die voëls sorg en die gras van die veld mooi maak, gee baie meer vir hulle om en sal hulle versorg. Jesus sê ook vir hulle dat om hulle oor môre te bekommer hopeloos is; hulle moet eerder fokus op dit wat vandag gedoen moet word (Lukas 12:22-31).
Dit sal ons goed doen om na hierdie raad van Jesus te luister en ons prioriteite reg te kry. Die Almagtige God van die heelal is ook ons Vader in die hemel. 'n Liefdevolle Vader wat vir sy kinders omgee en vir hulle sal voorsien.
Ons moet ontslae raak van al die angs en bekommernisse wat by ons opkom elke keer wat ons aan al ons probleme dink. Kom ons stel eerder ons vertroue op ons Hemelse Vader. Dit sal die bekommernisse verlig en ons sal vrede van God ontvang.
Ons uitdaging is om die Here Jesus Christus te gehoorsaam. "Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My." (Johannes 14:1)
Gebed: Hemelse Vader, wanneer ek depressief en bekommerd is en my hart soos 'n klip binne-in my lê, help my om op U te vertrou en gee aan my u vrede. In die Naam van Jesus bid ek dit. Amen.