Ben Fourie

“Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat…” Handelinge 2:2-4a

Die uitstorting van God se Gees op alle mense gaan gepaard met wind en vuur en die praat van ander tale - werklik dramatiese gebeure daar by die geboorte van die Kerk. Die Gees was egter nie net by die geboorte van die Kerk teenwoordig nie, Hy was al by die geboorte van die aarde teenwoordig. Ons lees reeds in Genesis 1:1-2 van Ruah Elohim – die Gees van God. “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef”. Die Hebreeuse woord Ruah kan vertaal word as gees, wind of ook asem. Hierdie verse oor die Gees se rol in die skepping laat my altyd dink dat God sy asem oor die hele skepping geblaas het. Interessant genoeg het Jesus ook na sy opstanding oor sy dissipels geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees”.

Ons dink dikwels die werk van die Heilige Gees hoort grootliks by die Nuwe Testament, maar dit is nie so nie. Met die uitstorting van die Gees op Pinksterdag het daar weliswaar ’n nuwe era of dimensie in sy werk begin, maar die derde Persoon van die Drie-eenheid is dwarsdeur die Ou Testament sigbaar. Dink maar aan Joël 2:28 waar God sê dat Hy sy Gees op elkeen sal uitstort en dan sal die seuns en dogters van die volk as profete optree en die ou mense sal drome droom. Petrus haal spesiaal hierdie deel aan in sy toespraak op Pinksterdag.

In 1 Samuel 10 lees ons dat die Gees kragtig in Saul en later ook Dawid gewerk het. Jesus gee ook opdrag aan die dissipels om in Jerusalem te wag, want “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom”. Kragtige werking is dwarsdeur die Bybel ’n groot kenmerk van God se Gees en nêrens meer sigbaar nie as in die engel se woorde aan Maria in Lukas 1:35 “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek.”

Gebed: U o Gees is in my lewe soos die wind wat waai, soms voel ek net u ligte roeringe in my en op ’n ander dag weer u krag soos van ’n stormwind wat my aanspoor tot diens in u koninkryk. Dankie dat U elke dag met my besig is. Amen