Ben Fourie

“Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.” Openbaring 5:12

Offerandes aan God is van vroeg af in die Bybel bekend. Genesis is nie die oudste geskrif in die Bybel nie, maar vertel wel die oudste verhale, onder andere die van Kain en Abel se offers aan die Here. Offers was bekend by bykans al die godsdienste van die antieke tyd. Dit het bestaan uit offers van produkte, diere en soms ook mense en is gewoonlik gebring om die betrokke god se guns te wen.

In die Bybel was die eerste offers bedoel om dankie te sê. Onder die dankoffers was lofoffers, offers by ’n gelofte en vrywillige offers na ’n goeie oes. Alhoewel dit seker nie vroeër uitgesluit was nie, word die bring van ’n sonde-offer of skuldoffer eers volledig opgeteken in Levitikus 4 en 5. In teenstelling met ander godsdienste waar offers gebruik is om die god tevrede te stel sodat hy/sy nie vir jou moet kwaad wees nie, is sonde-offers aan God grootliks beskou om na ’n oortreding die verhouding met Hom te herstel.

Alhoewel ’n lam dikwels gespesifiseer is vir sekere offerandes is ander diere ook gebruik. Sedert die uittog uit Egipte is ’n lam wat vir die paasmaal geslag word prominent in die Joodse godsdiens. Die bloed wat die nag van die uittog aan die kosyne gesmeer is, was ’n teken vir die doodsengel om daardie huis verby te gaan.

Jesus word op verskeie plekke in die Nuwe Testament as die Lam van God aangedui. In Johannes 1:29 staan daar: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Jesus moes soos ’n offerlam “geslag” word en sy bloed wat gestort is, is soos die bloed aan die deurkosyne. Dit het gebeur sodat die straf van God oor die sonde ook by ons kan verbygaan. Omdat hy as Lam van God die sonde gedra het, is hy nou volgens die vers uit Openbaring waardig om mag en eer en lof te ontvang. Hy is nou nie meer offerlam nie, maar die Lam wat oorwinnend uittrek om sy koninkryk te vestig. Die Morawiese Kerk het dit pragtig uitgebeeld in hulle embleem. Kyk gerus daarna op die Internet.

Gebed: Ek verstaan nie regtig dat U ’n offerlam moes wees nie en al die waaroms en hoekoms van u dood nie, maar sê baie dankie daarvoor.  Amen

 

https://www.moravianchurch.co.za/about-moravian-church/