Ben Fourie

“Jesus sê vir hom: ‘Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eers ’n rusplek vir sy kop nie’”. Matteus 8:20

Die uitdrukking “Seun van die mens” kom meer as tagtig keer in die Nuwe Testament voor wanneer Jesus na homself verwys. Dit is ’n moeilike begrip om te verklaar. Dit kom wel ook in die Ou Testament voor in Psalm 8:4, maar die Afrikaanse vertaling “mensekind” is hier baie gepas omdat daar na ’n gewone mens verwys word.

In Daniël 7:13 begin dit ’n ander betekenis kry. Die Afrikaanse vertaling is ook “menslike wese”, maar in die Aramese brontaal staan daar “seun van die mens”. In die visioen sien Daniël hoe “Hy wat ewig lewe” op die troon sit en hoe die “seun van die mens” kom en die heerskappy oor die volkere ontvang.

Die gedeelte vra eintlik ’n lang uitleg op sigself en is soos die hele boek nie sommer op sigwaarde te verklaar nie, maar ons volstaan met die volgende: Te midde van die wêreld chaos wat in die visioen beskryf word, kom die “seun van die mens” na vore en ontvang die reg van God om “orde” te skep. Alhoewel interpretasies verskil, word hier moontlik nie na ’n persoon verwys nie, maar na Israel as volk van God wat teenoor die wêreldse volkere gestel word. Uit Israel sou natuurlik ook die Messias kom. Die begrip in Daniël wys moontlik vir ons die weg om die uitdrukking in die Nuwe Testament beter te verstaan.

In die Nuwe Testament kom die uitdrukking in verskillende kontekste voor en ’n mens moet die betekenis beoordeel volgens die konteks waarin dit staan. In ons teksvers en ook hoofstuk 17:22, wys dit op Jesus se vernedering. In Matteus 9:6 op sy Goddelike vermoë om sondes te vergewe en in Matteus 10:23 op sy oorwinnende wederkoms. Die uitdrukking “Seun van die mens” is ’n samevatting van die wonder van wie ons Here Jesus is en van wat Hy kan doen. Hy is as Seun van die mens uniek onder mense, mens soos ons, maar deur wat hy doen soveel meer as ons. Hy is ook waarlik die Seun van God en ontvang van God die reg om “orde” in die sonde chaos van die wêreld te skep.

Gebed: Al verstaan ek dalk nie volledig wat U bedoel het toe U Uself Seun van die mens genoem het nie, dank ek U dat U ook orde in my lewe kom skep het. Amen